Dit is nie ‘n wolhaarstorie nie en hier is geen spekskieters, dit is die reine waarheid. Afrikaans vier vandag die 99ste bestaansjaar - Nannies Kopela. Of dit nou dans, sing of vry is, alles is net lekkerder in Afrikaans!
Min dinge is so lekker soos Afrikaans
Daar is min dinge wat Afrikaans skreeu soos ‘n stroopsoet koeksister, ‘n lekker Hertzoggie, Sondagmiddag potjiekos saam met die familie of biltong en droëwors tydens ‘n rugbywedstryd. Maar Afrikaans is soveel meer as heerlike kos, koddige uitdrukkings of die r’e wat so lekker van die tong af rol; dit dien as getuie van die taal (en dié se sprekers) se veerkragtigheid en deursettingsvermoë om ons taal te behou en bewaar vir so lank moontlik.

Afrikaans word as amptelike taal erken
8 Mei merk 'n belangrike dag vir die 6,8 miljoen Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika. Hierdie datum herdenk die erkenning van Afrikaans as 'n amptelike taal op gelyke voet met Engels sedert 1925, naas ander groot tale soos Zoeloe en Xhosa. Die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in 1875 in die Paarl, gelei deur ds. S.J. du Toit, was 'n sleutelmylpaal en beginpunt van die Eerste Afrikaanse Taalbeweging. Die geskiedenis van Afrikaans vertoon 'n ryk verhaal van uitdagings en triomf, insluitend kulturele en taalkundige ontwikkelinge soos die eerste Afrikaanse koerant, gedig, roman, en die Bybelvertaling in 1933. Ten spyte van onlangse uitdagings, bly daar hoop deur die pionierswerk van diegene wat die taal met trots en innovasie ondersteun.

‘n Mengelmoes van tale
Afrikaans het uit 'n mengelmoes van rasse, tale en nasies aan die suidpunt van Afrika ontstaan en sy wortels strek binne en buite Suid-Afrika. Dit begin in 1652 met die aankoms van Hollanders by die Kaap, met belangrike bydraes van slawe en die Khoi. Europese invloede het gekom van 17de-eeuse setlaars met verskillende Hollandse dialekte, wat later Oosgrens-Afrikaans genoem is. Oosterse invloede kom van slawe uit Hollandse kolonies in die Verre-Ooste, wat Maleis-Portugees gepraat het, wat Afrikaans beïnvloed het. Khoi-beïnvloeding het deur handel met die boere en die gebruik van 'n Pidgin-Hollands gelei tot insluiting van Khoi-tale in Afrikaans. Arnoldus Pannevis, wat die taal eerste Afrikaans genoem het, het bygedra tot die erkenning van Afrikaans as 'n aparte taal. Die Genootskap van Regte Afrikaners is in 1875 gestig om Afrikaans as 'n skryftaal te bevorder. Afrikaans het in 1925 amptelike taalstatus verkry en bly 'n belangrike Suid-Afrikaanse taal, alhoewel die gebruik daarvan in onderwysinstellings afneem. Afrikaans se voortbestaan hang af van ondersteuning in alle funksies en erkenning van sy verskeidenheid. Organisasies soos AfriForum werk om Afrikaans se status te beskerm en te bevorder.

Lekker, lawwe sinne

Wanneer jy haastig op pad tuis is en ‘n ploert slaan eweskielik briek aan omdat dié by die kombikraal wil afdraai sonder om sy flikkerlig te gebruik, is dit maklik om ‘n vloermoer sommer net daar in die kar uit te haal en hom behoorlik te gooi! Wanneer jy dan by die huis kom en oor klotter struikel, op jou agterstewe beland en die duiwelsdonsies loer onder die bank na jou (en jy is seker jy kan hoor hoe hulle jou koggel) is dit die laaste strooi - hiérdie flodderkous moet die huis in orde kry, of julle nou snags lepellê of nie. Heelwat later, wanneer jy alreeds te diep in die kalbas gekyk het, en jy nie meer klopdisselboom voel nie, jy heeltemal van jou sinne beroof is en jy besef jy staan tussen die duiwel en die diep blou see, gaan haal jy maar vir jou ‘n paddakombersie en loop voetstoots terug kamer toe.
Afrikaans is ‘n gevoel, dit is ‘n kultuur, dit is wie ons is en dit is in ons bloed. Belangriker nog, dit is ‘n taal wat bewaar moet word vir die volgende generasies en dié na hulle. So lank ons nog kan, sal ons visplakkies en kortbroeke in die middel van winter dra, ons sinne eindig met ja-nee kyk en bosveld-TV kyk tot in die vroeë oggendure. Man, dis blêrrie lekker om Afrikaans te wees!

Hier is nog ‘n paar lekker Afrikaanse woorde
Fnuik, Vlerksleep, Mamparra, Tolbosromanse, Spiekeries, Kasaterwater, Gemeen, Leunstoelaktivis, Globalisering, Papelellekoors, Flaterwater, Glimpen, Artefakte.
Johané van Dyk - Potchefstroom








.jpeg)
