Na byna twee dekades sonder instandhouding, is die brandblusapparaat by die Harmonie en Immergroen ouetehuise in Potchefstroom onlangs volledig gediens en hervul. Die laaste diens van hierdie toerusting was in 2003.

Die diens is moontlik gemaak danksy 'n gemeenskapsinisiatief en die ondersteuning van Fest Fire and Safety, onder leiding van David Mann, wat ingestem het om die werk gratis aan te bied. In totaal is 21 brandblussers en 2 brandslangrolle gediens en hervul – ‘n belangrike stap om die veiligheid van die inwoners te verbeter.

Beide Harmonie en Immergroen huisves ouer inwoners wat grootliks afhanklik is van SASSA-toelaes en beperkte munisipale ondersteuning. Die kompleks is al geruime tyd in die kollig vir infrastruktuuruitdagings en 'n gebrek aan basiese instandhouding.
Die ondersteuning van Fest Fire and Safety is dus nie net ‘n praktiese bydrae nie, maar ook ‘n sterk gebaar van gemeenskapsbetrokkenheid en omgee. Inwoners en betrokke rolspelers het hul dankbaarheid uitgespreek vir die diens en die aandag wat aan die veiligheid van die perseel gegee is.

Die opgradering van die brandveiligheidstoerusting volg op ander inisiatiewe soos die skenking van geysers en opruimaksies in samewerking met plaaslike organisasies en lede van die gemeenskap.
Die storie dalk gemis? Lees vorige storie by skakel hieronder:
Gemeenskap en besighede reik uit na bejaardes by Immergroen en Harmonie
Hierdie jongste bydrae word gesien as nog 'n positiewe stap in die regte rigting om die lewenskwaliteit en veiligheid van die inwoners van die JB Marks Munisipaliteit se ouetehuise te verbeter. #TheGoToGuy #potchefstroom #potchgazette #stroomstories #potchcares