Verskuil net 'n entjie buite die buitewyke van Potchefstroom, lê 'n verborge juweel wat die essensie van plattelandse lewe en goeie ouderwetse pret vasvang. Hierdie bekoorlike instelling, eenvoudig bekend as Diggers Inn, het 'n geliefde ontmoetingsplek geword vir plaaslike inwoners en avonturiers gelyk, wat 'n unieke mengsel van vermaak, heerlike kos, en 'n warm, verwelkomende atmosfeer bied. Meer as net 'n restaurant en vermaakplek, is Diggers Inn Pub and Grill 'n middelpunt vir die plaaslike gemeenskap. Dit is 'n plek waar vriende en bure saamkom om stories te deel, mylpale te vier en blywende herinneringe te skep.
Waar dit alles begin het
Ferdie en Beverley Strydom-Seegers het 15 jaar gelede Rysmierbult toe getrek en die groot stuk grond gekoop. Ferdie is ‘n buitelug mens en mal oor motorfietse; soveel so dat hy die eerste off-road rally op die einste gronde gehou het. Beverley het tydens hierdie rally kos en koeldrank aan die toeskouers verkoop en toe iemand vir Ferdie vra hoekom hy nie sommer net ‘n kroeg oopmaak nie, het die idee posgevat en op 13 Junie 2016 is Diggers Inn se deure amptelik geopen. Diggers Inn sou eers bekend gestaan het as Die Woud as gevolg van die baie bome op die plaas, maar met die besef dat daar logistieke en konstruksie uitdagings gaan wees (onderandere water en elektrisiteit aanlegging), het hul besluit om die kroeg eerder boontoe te bou. Die delwerye in die omgewing het eindelik aanleiding gegee tot die naam - dit rol ook lekkerder van die tong af.
Kunstenaars galore
Pieter Rischmüller (aka Piet Pompies, voormalige lid van DJ Ossewa) was die eerste kunstenaar wat ‘n vertoning by Diggers Inn gehou het en intussen het groot name soos Demi Lee Moore, Appel en Riaan Benadé ook al by dié grondpad afgedraai. Ferdie en Beverley is steeds agter die stuur van hierdie skip en groei elke jaar van krag tot krag. Hul lojale klante praat met lof oor die eienaars, kos en diens wat hul ervaar - dit is juis hoekom hulle keer op keer terugkom hierheen. Sommige klante het al ‘n spesiale, toegewyde stoel waar hulle sit wanneer hul oor die drempel trap en elke persoon word met ‘n warm glimlag, stewige handdruk of stywe drukkie gegroet. Dit gaan alles oor verhouding bou en Beverley kan dadelik sien wanneer daar ‘n nuwe gesig by die deur instap en met haar warm, innemende persoonlikheid, voel hulle sommer dadelik welkom en tuis.
Almal is welkom
Alhoewel families en gesinne, motorfietsryers en boere in die omgewing die meerderheid van hul kliënte is, is daar nie ‘n spesifieke teikenmark op wie hul visier gestel is nie - almal is welkom en word met ‘n breë glimlag verwelkom. Indien jy van goeie boerekos, lekker geselskap en Afrikaanse musiek hou, is hierdie die plek vir jou! Diggers Inn spog met hordes 5-ster resensies op verskillende platforms en in die agt jaar wat hul operasioneel is, het hul nog net een slegte resensie ontvang. Alhoewel 'n groot deel van Diggers Inn se bemarking uit word of mouth bestaan, is Beverley baie aktief op sosiale media en probeer minstens elke dag ‘n WhatsApp boodskap stuur of Facebook plasing deel om die publiek op hoogte te hou van gebeure of lekker spyskaart specials.
Liplek-lekkerte
Diggers Inn is bekend vir hul ‘Boereslakke’ - rump steak toegegooi onder baie kaassous en knoffel en hul spog met die lekkerste buffalo wings in die dorp, het Beverley trots vertel. Die hart van hierdie inrigting lê in sy uitsonderlike kos. Die spyskaart spog verder met heerlike hamburgers en, natuurlik, iets vir die kleinspan. Plaaslike bestanddele word met liefde in mondwaterende disse omskep, wat 'n eetervaring verseker wat jou keer op keer sal terugbring. Die perseel bied ook 'n speelplek vir die kinders en selfs 'n swembad wat as lafenis dien tydens Potch se Somers.
2024 kalender
Hierdie jaar is weer ‘n jaar vol geleenthede, so merk solank die volgende datums in jou dagboek:
3 Februarie - 30km outride (motorfietse, quad bikes)
2 Maart - Pampoenfees ft Scallywag en Boeresport Dag
16 Maart - 60km GXCC Off-road Rally
Bass Kompetisie - datum sal bevestig word
Vir die avontuurlustige siele bied Diggers Inn 'n reeks buite-aktiwiteite om jou besoek aan te vul. Sluit aan by een van hul fietsritte deur die pragtige platteland, waar jy die skoonheid van die natuur kan inademen terwyl jy die ervaring met mede-entoesiaste deel. Dit is 'n fantastiese manier om die natuurskone van die streek te verken.
Een van die hoogtepunte van Diggers Inn se kalender is sy jaarlikse Pampoenfees. Boere regoor die kontrei versorg nou al byna ses maande hul pampoenpitte en wanneer die pampoene die 2de Maart ten toon gestel en geweeg word, sal hulle sien wie hierdie jaar as Pampoen Kampioen bekroon word! Met egte Boeresport, lekker kos en ‘n vertoning deur Scallywag, beloof dit om ‘n dag vol vet pret te wees vir die hele gesin. Besoekers staan ook ‘n kans om met ‘n prys weg te stap wanneer die geluktrekkings plaasvind deur die loop van die dag. Die feit dat hul spotgoedkoop kampgeriewe bied, dien ook as groot trekpleister - veral tydens hierdie geleenthede.
‘n Hart vir die gemeenskap
Soos die meerderheid van die Potchefstroom gemeenskap se besighede en individue, is Diggers Inn ook betrokke by liefdadigheidsprojekte, onderandere Abraham Kriel Kinderhuis en PAWS. Ferdie en Beverley het ook skryfbehoeftes aan Lechem geskenk verlede jaar. Hul is baie gewillig om te help, oop vir voorstelle of om kragte saam te smelt vir liefdadigheid. Hetsy dit ‘n liefdadigheid pretloop of wedren is, moet nie skroom om in kontak met hul te kom nie.
Missie en visie
Wat Diggers Inn onderskei, is sy toewyding om topgehalte vermaak en kos te bied. Of jy nou 'n aanhanger van lewendige musiek is of eenvoudig met vriende wil ontspan, daar gebeur altyd iets hier. Die plaaslike kunstenaars en orkeste wat gereeld in die lig gebring word, skep 'n elektriese atmosfeer wat resoneer met die gees van die gemeenskap. “My missie is om meer shows hier te hou; dit sorg vir ‘n finansiële inspuiting wat tot die perseel se ontwikkeling en uitbreiding kan bydra”, vertel Beverley vasberade. En met die groot name wat al hier opgetree het, is ons opgewonde om te sien watter talent hul volgende gaan oplewer.
Dus, as jy jouself buite Potchefstroom bevind en 'n eg plattelandse ervaring soek, moet jy beslis 'n draai maak by Diggers Inn Pub and Grill. Of jy nou 'n heerlike maaltyd, 'n aand van vermaak of 'n buite-avontuur soek, hierdie verborge juweel het dit alles en Ferdie, Beverley en Duvan staan gereed om jou met ope arms te verwelkom.
Johané van Dyk - Potchefstroom