EB’s Hardware is so deel van Potchefstroom soos die Mooirivier en is al sedert Julie 2020 onder nuwe eienaarskap, maar die kwaliteit van die toerusting en produkte het geesins afgeneem nie - inteendeel.
"First things first"
Christie Lauwrens, neef van Charl Lauwrens wat Kwende Electrical Supplies in Klerksdorp besit en EB’s gedurende COVID oorgekoop het, is deesdae aan die stuur van sake en die vriendelike gesig van EB’s Hardware. Christie het sy senior posisie, wat hy vir 14 jaar beklee het, verruil vir ‘n kortbroek en kleurvolle kouse. “Dit was ‘n impulsiewe besluit, maar ek het ‘n leap of faith gevat.” En nou, drie jaar later, is hulle steeds die grootste hardeware winkel in Potchefstroom met sekerlik die grootste verskeidenheid.
Aan die begin was dit redelik ‘n uitdaging omrede daar so baie was wat gedoen moes word en aandag moes geniet. Die eerste ding wat Christie wel gedoen het, was om toestemming by die stadsraad te kry om die parkie oorkant die winkel skoon te maak en op te knap. Dit was ‘n uitdagende taak, maar het die gewenste effek gehad - die omliggende gemeenskap baat daagliks daarby en die parkie word steeds deur EB’s onderhou.
Mededingers en industrie veranderinge
Hul kompeterende voordeel is dat hulle pryse baie goed is en hul hou voorraad aan wat klante nie sommer iewers anders sal kry nie; onderandere polisterine sheets. Hul spog ook met unieke parte en voorraad wat klante aanvra. Wanneer hierdie unieke parte bestel word, word daar sommer genoeg voorraad vir die hele winkel bestel om seker te maak dit is beskikbaar. Christie noem dat hul werklik na hul klante luister en die ekstra myl stap deur toestelle, parte of hardeware te bestel indien klante dit wel nie in die winkel kry nie. Verder bly hul op hoogte van die veranderinge in die industrie soos klante se behoeftes verander.
INGCO
Christie se ander ‘baba’ is INGCO. Hierdie maatskappy is die amptelike borg vir die 2024 Dakar Rally wat jaarliks in Saoedi-Arabië gehou word en die Potchefstroom tak is tans in die sesde posisie in die land. EB's is 'n handelsmerk ambassadeur van INGCO wat spesialiseer in kraggereedskap en Christie noem dat dít juis is wat EB’s Hardware ‘n unieke verkoopspunt en voordeel gee - kraggereedskap en toestelle gekombineer met hardeware. Hierdie afdeling is net so betrokke by die gemeenskap soos EB’s en die kenmerkende geel en swart is al sinoniem met EB’s Hardware en Christie is net so trots om met hierdie maatskappy geassosieer te word. EB's het ook vroeër vanjaar die Platinum toekenning gewen as handelsmerk ambassadeur van die jaar.
‘n Hand wat oop is om te gee, is ‘n hand wat oop is om te ontvang
EB’s Hardware is een van die maatskappye in Potchefstroom wat by meer as een gemeenskapsprojek betrokke is. Nie net ondersteun hul PAWS nie, hulle is ook borge vir die Panthers rugby- en netbalspanne en bied 'n helpende hand aan skole in Ikageng. Christie was betrokke by die Community Police Forum (CPF) en het saam met Tlokwe SAPS gewerk om misdaad in die dorp te bekamp, maar as gevolg van ‘n alreeds oorvol skedule, het hy besluit om terug te staan en op ander maniere betrokke te bly.
EB's is ook betrokke by die Community in Blue en die grootste bydraer van die Abraham Kriel Kinderhuis Verjaarsdag Projek. Laasgenoemde is ‘n inisiatief waar hul die inwoners se wense tot die beste van hul vermoë verwesenlik. EB’s kry maandeliks koeverte met verjaarsdagwense en die trane sit maar vlak terwyl jy sien watter eenvoudige geskenkies hierdie kinders graag wil hê - ‘n warm baadjie, ‘n dag uit saam met maats of selfs net ‘n sjokolade. Die EB’s span gaan regtig uit hul pad uit om elke kind se wense waar te maak en Christie, tesame met sy kollega en vloer assistent, Marius Koekemoer, het al honderde geskenke gaan aflewer by die kinderhuis en elke keer word hul beloon met die grootste glimlagte denkbaar. Die EB’s Hardware span het ‘n groot hart vir die kinderhuis en is reeds besig om aan nuwe inisiatiewe te dink vir volgende jaar se projekte.
Uitdagings en geleenthede
Die uitdagings én geleenthede lê in die Potchefstroomse gemeenskap opgesluit. Omdat EB’s al so lank in die dorp gevestig is en vir oom Eb leer ken het as eienaar en gesig van dié hardeware winkel, weet sommige mense steeds nie dat die winkel oorgekoop is en ander vra steeds na die vorige eienaars wanneer hul deur die deur stap; dus is dit vir Christie uitdagend om nuwe verhoudings te bou met lojale klante. Daar is so baie geleenthede waar ander groot besighede en maatskappye ‘n werklike verskil kan maak in die gemeenskap, maar eenvoudig nie doen nie. Die meeste bydraes word deur privaat individue gelewer en hierdie bydraes is maar slegs 'n druppel in die 'nood-emmer'.
Hoe lyk die toekoms vir EB’s Hardware?
Die winkel het bekend geraak as ‘die winkel waarheen jy kom wanneer jy nie iets kry nie’. Christie noem ook dat die winkel ideaal geleë is, so hul sal nie sommer van ligging skuif nie, maar klante kan wel uitsien na ‘n groter EB’s in die toekoms. Christie nooi die gemeenskap van Potchefstroom uit om te kom rondloop in die winkel, die verskeidenheid voorraad te sien en met die bekwame personeel te gesels - en op só ‘n wyse word nuwe verhoudings gebou.
EB's Hardware is in die beste, bekwaamste hande moontlik gelaat en ons as gemeenskap sien uit om te sien hoe hul van krag tot krag gaan onder Christie se leiding.
Potchefstroom - Johané van Dyk