Die eerste dag van skool is altyd senutergend - vir die ouers, kinders én onderwysers. En soveel meer wanneer dit jou eerste keer in die 'groot skool' is; maar daar was nie 'n beduidenis van senuwees by Laerskool Baillie Park se graad een klassies nie, inteendeel.
Groot opwinding het geheers op die skool terrein terwyl ouers hul kroos vanoggend (17 Januarie) gaan aflaai het vir die nuwe skooljaar. Maatjies het mekaar jillend omhels en dadelik oor die vakansie begin gesels en die graad een leerders het grootoog in hul nuwe klassies ingestap. Met hul oorgroot tasse wat buite die klas staan en gretige gesiggies binne die klas, is 2024 se nuwelinge 'n wonderlike toevoeging tot Laerskool Baillie Park en die onderwysers sien net so baie soos die leerders uit om hierdie nuwe jaar aan te pak.

Dit is ook goed dat die Graad 1 juffrouens klas assistente het, veral omdat Laerskool Baillie Park hierdie jaar met vyf stelle tweelinge spog! Gelukkig is hulle in verskillende klasse.

Vir hierdie jong leerders is dit 'n groot mylpaal – dit is die begin van hul formele opvoedkundige reis. Onderwysers ontvang hulle met warmte en geduld, terwyl ouers dikwels met trots en 'n bietjie hartseer toekyk hoe hul kleingoed 'n nuwe hoofstuk begin. Die klaskamers word 'n ruimte van ontdekking waar hulle die basiese beginsels van lees, skryf, en somme leer. Hierdie dag is nie net belangrik vir die akademiese groei van die kinders nie, maar merk ook 'n belangrike stap in hul persoonlike en sosiale ontwikkeling.

Die leerders het ewe entoesiasties vertel hoe opgewonde hulle is om in graad een te wees en dat hulle sommer alreeds baie van hulle juffrouens hou. Terwyl hulle hul skoolbanke vir die eerste keer vul, kyk hulle met groot oë na die kleurvolle klaskamer wat hulle nuwe leer- en speelplek gaan wees. Die klaskamers is versier met vlaggies en mooi gordyne en op die mure is plakkate van kleure, vorms, letters van die alfabet en, natuurlik, 'n verjaarsdag hoekie. Hier begin hulle hul opvoedkundige pad met die aanleer van die alfabet, getalle, en hoe om nuwe vriendskappe te bou.

"Elke oefening is 'n geleentheid om te leer" het juffrou Chris-Mari Venter genoem terwyl sy haar klas ry vir ry laat uitstap het. Hierdie jongelinge se breine is soos sponse en op hierdie ouderdom is hulle bewus van alles rondom hulle, neem hulle alles in en vra vrae wanneer hul onseker of nuuskierig is. Goeie dissipline word gehandhaaf by Laerskool Baillie Park en hierdie graad eentjies steek alreeds gretig hul hande in die lug wanneer hul 'n vraag wil vra en wag buite die klas totdat die juffrou hul laat instap.

Ons sien uit na dít wat 2024 vir hierdie jong rakkers gaan oplewer en ons weet dat hulle behoorlik gaan blom en hul voete sommer vinnig gaan vind met die leiding van elke toegewyde onderwyser.
Johané van Dyk - Potchefstroom