"Dit alles het begin op 'n warm Somerkersfees, waar die Betlehem ster helder skyn in die mooi Griekeland-lug. Die dorpsplein was 'n fees van verwagting en verrassings. 'n Donkerbruin oë meisie, bekend vir haar sin vir avontuur, het 'n idee gehad om 'n ‘Soet geur van Muskus’-fees te reël."
Met opwinding en groot afwagting, het die LyriMus Teater vir ‘n laaste keer hierdie jaar hul deure oopgemaak vir die publiek en weereens gesorg vir ‘n fantastiese vertoning. Met die Kersseisoen as oorhoofse tema, het die gehoor die liede van Summer Serenades geniet en hulself ingeleef.
Klein juweel van 'n plek
In die hart van ons gemeenskap staan LyriMus Teater as 'n kulturele juweel wat gehore betower met boeiende vertonings. Verskuil in 'n gesellige lokaal, dien hierdie teater as 'n dinamiese sentrum vir artistieke uitdrukking, wat die enorme talent wat binne ons gemeenskap floreer, uitstal. Van tydlose klassieke werke tot vooruitstrewende kontemporêre stukke - dié plaaslike musiekteater bring stories tot lewe. Met 'n toegewyde ensemble, bied die teater 'n indrukwekkende ervaring vir beide lojale teatergangers en nuweling besoekers. LyriMus vermaak nie net nie, maar kweek ook 'n gevoel van eenheid en trots onder inwoners en plaas die kollig op die talent wat in ons eie agterplaas ontstaan.
Die kunstenaars
Sampie Claassen het die aand afgeskop met liede soos ‘Donkerbruin Oë’ deur Manuel Escorcio en Gé Korsten se ‘Mooi Griekeland’. Daarna het Magriet Aucamp die verhoog betree en die gehoor bekoor met Somer Kersfees en Sonneblom uit Bethlehem. PB Laas het gesorg vir hoendervleis met sy weergawes van Little Drummer Boy en Oh, holy night - hy is beslis ‘n kunstenaar om dop te hou. Die hoendervleis was skaars weg, toe is dit J&B (Jananda en Braam se verhoognaam) se beurt om die gehoor te bekoor. Jananda het die gehoor op hul voete gehad met haar verwerkte weergawe van ‘Don’t cry for me, Argentina' en hulle het ook later die litte laat skud met ‘Jan, asseblief tog squeeze my’ en Que Sera, Sera.
Braam se rasperstem het vir verdere vermaak gesorg met Neil Diamond se ‘Holly Holy’ en Jananda se ‘Lisa se Klavier’ was ook ‘n gunsteling onder besoekers. Die aand het afgesluit op ‘n hoë noot toe al die kunstenaars ‘n impromptu lied opgevoer het. Vir diegene wie dalk hierdie vertoning misgeloop het, gaan loer gerus na die videos op hul Facebook blad.
Die nuwe jaar beloof om nog meer merkwaardige, opwindende vertonings te lewer.
Indien daar 'n storie is wat jy met die gemeenskap wil deel, kontak ons gerus: potchgazette@thegotoguy.co.za
Potchefstroom - Johané van Dyk