Diggers Inn Pub and Grill het die tweede, amptelike Pampoenfees aangebied en dit was weereens ‘n reuse sukses.
'n Dag vol pret en plesier
Besoekers het al van vroeg af by die grondpad afgedraai om die beste parkeerplek te kry en gazebo’s op te slaan, reg vir die hele dag se verrigtinge; daar was selfs ‘n paar tente opgeslaan en karavane parkeer. Kos- en klerestalletjies, tesame met ander uitstallers het die son aangedurf en die samesyn geniet. Die kroeg het ook gesorg vir verversings deur die dag en polsende musiek het ‘n lewendige atmosfeer geskep.
Voorbereidings is behoorlik getref
Deelnemers het aan die begin van Augustus 2023 hul pampoenpitte by Beverley gekoop en het die afgelope agt maande dié pitte mooi versorg en die pampoene ge-nurse na oploop van die groot dag. Deelnemers kon van 15h00 af hul pampoene inweeg en ‘n paar van hierdie oranje groentes het die skaal behoorlik laat kreun.
Die Pampoen Kampioen
Alhoewel verlede jaar se wen-pampoen gewig van 428kg nie oorskry is nie, is die wenners einde ten laaste aangekondig en vanjaar se Pampoen Kampioen is Petrus Maré - sy bielie van ‘n pampoen het 132kg op die skaal gesit. Milly Hamman se pampoen het eerste plek met slegs 2kg gemis en Danie Theunisen het ‘n derde plek behaal met ‘n indrukwekkende 121kg. Petrus het weggestap met R5 000 en die Hammans het R3 000 in die sak gesteek met hul tweede plek pampoen.
Boeresport pret vir oud en jonk
Na afloop van die inweeg, het besoekers reggemaak vir die Boeresport. Scallywag het ook as Seremoniemeester hier gedien en het gesorg dat die gehoor skater van die lag. Die manne moes hul krag wys terwyl hulle trekker bande oplig en oor die grasperk laat ‘tuimel’. Daar was hope pret met ‘n tradisionele sakresies en eier resies tot groot vermaak van die res van die besoekers. Deur die loop van die dag was daar ook geluktrekkings vir verskillende pryse en Maggie Oosthuizen het weggestap met ‘n hele skaap!
Een van die trekpleisters
Scallywag het eindelik die verhoog betree en die gehoor met haar unieke stem bekoor. Besoekers het lekker saam gesing en die feesvieringe het tot laat die aand aangehou. Sy was ook al van vroeg af by Diggers Inn en het deur die loop van die dag haar volgers op sosiale media op hoogte gehou van die dag se gebeure.
Gaan volg haar gerus op Facebook, Instagram en TikTok.
Ons sien uit na Pampoenfees 2025
Die beplanning en moeite wat Beverley en haar span gedoen het, was duidelik sigbaar en op sosiale media praat die besoekers met groot lof oor die sukses van vanjaar se geleentheid. Ons sien uit na volgende jaar se Pampoenfees en wag saam met Beverley en haar span vir die pampoen wat sal sorg vir ‘n nuwe bekroonde Pampoen Kampioen.
Johané van Dyk - Potchefstroom
_____________________________
Om nog foto's en videos van 2024 se Pampoenfees te sien, besoek gerus Diggers Inn Pub and Grill se Facebook blad.