Die afgelope ruk was daar ‘n ongemaklike hoeveelheid fietsongelukke in en om Potchefstroom, maar wie is nou eintlik die sondebok?

'n Geliefkoosde stokperdjie
Saam met draf, Padel en CrossFit, is fietsry een van ons gemeenskap se geliefkoosde stokperdjies. Ons ligging laat maklike uitritte na omliggende areas toe wat ‘n heerlike tydverdryf is, veral wanneer die dorp nog slaap so vroeg op ‘n Saterdagoggend. Maar dit is ook tydens die vroeë oggendure wat trokke die langpad verder aandurf.

Voorsorgmaatreëls, nietemin
Fietsryers tref voorsorg in die vorm van vroeë sessies, fietsliggies en/of ‘n GPS wat aandui wanneer daar karre van agter af kom en ook hoe vinnig hiérdie motors ry. Alhoewel, die kernwoord in die vorige sin is agter. Ek weet nou nie van jou nie, maar ek was geleer om nie saam met die verkeer te draf of fiets te ry nie - jy ry altyd teen die verkeer, juis sodat jy (en aankomende verkeer) kan SIEN wat aankom. As jy kan sien wat voor jou aangaan en aankom, het jy genoeg tyd om ‘n besluit te neem oor jou volgende beweging, dan nie?
Wanneer die indringende gedagtes die oorhand kry
Daar is natuurlik die uitsondering van moedswillige bestuurders wat ‘n oomblik van waansin beleef en ‘n fietsryer met opset tref - their intrusive thoughts won. Trokke wat deur die dorp ry, bestuurders wat hul misgis met die afstand tussen hul kar en die fietsryer of bestuurders wat roekeloos bestuur in ‘n 60 km/h sone; waarheen jaag jy, Checkers gaan steeds daar wees wanneer jy soos ‘n besetene daar stilhou?! Maar dís ‘n ander dag se opinie. Hiérdie onderwerp hou ‘n persoonlike konnotasie vir my, so dit is nogal triggering wanneer ‘n mens van so baie ongelukke lees - veral dié wat op dieselfde wyse gebeur het. My neef is op skool raakgery en agterna gesleep deur ‘n trok wat deur die dorp gery het - die drywer het nie eens agterkom hy het iemand getref nie. My neef het herstel, maar het sy eie uitdagings gehad waarmee hy moes deal en tot vandag toe het dit ‘n invloed op sy lewe - maar ons prys die Here vir die herstel. Soos ek kon aflei uit die berigte en stories, het die einste neef van my ook nie teen die verkeer gery nie.

Wie kry die blaam?
Nou kom die anderkant van die muntstuk. Wie dra nou eintlik die blaam wanneer daar ‘n tref-en-trap is? Is dit die motoris wat aanhoudend in die noodbaan swenk of is dit die fietsryer wat amper langs die karre ry? Fietsryers én motoriste het ‘n verantwoordelikheid om bewus van mekaar te wees op die pad. Hiér is die regering in sommige gevalle die sondebok. Ongelukke sal moontlik afneem indien beter padinfrastruktuur soos afgesonderde fietsbane aangebring word, slaggate herstel word of meer sigbare verkeerstekens wat die teenwoordigheid van fietsryers aandui. Dis maklik om vinger te wys na ‘n skuldige party, maar dit is in die meeste gevalle ‘n sameloop van gebeure wat ongelukke tot gevolg het.

In my opinie is dit heel eenvoudig - fietsryers moet teen die verkeer ry, motoriste moet kyk waar hulle ry en beide moet mekaar respekteer - finish en klaar.








.jpeg)
