“The greatness of a community is most accurately measured by the compassionate actions of its members" - Coretta Scott King
Met die skole wat volgende week weer heropen na ‘n láng vakansie, is die ouers se opwinding beslis meer as dié van hul kroos. Nuwe tasse, pennesakkies en skryfbehoeftes is reeds gekoop en die nuwe skoolskoene staan reeds gepoleer - reg om nuwe spore te trap hierdie jaar. Maar dan is daar diegene wie nog nie eens ‘n paar nuwe kouse het nie, omdat hulle ouers dit eenvoudig nie kan bekostig nie; om nie eens van die peperduur skoolklere en die prys van Pritt te praat nie! Daar is groot nood en behoefte aan skoolklere, -skoene, skryfbehoeftes en enigiets skoolverwant - nie net in ons dorp nie, maar regoor die land.
Bied 'n helpende hand
Solidariteit Helpende Hand het 'n besonderse manier gevind om aan die gemeenskap terug te gee en 'n beter toekoms vir baie Suid-Afrikaners te skep deur middel van 'n netwerk van liefdadigheidswinkels genaamd "Ons Winkels." Hierdie winkels het die potensiaal om 'n groot verskil te maak in die lewens van mense wat dit nodig het en bied 'n unieke geleentheid vir die publiek om 'n bydrae te lewer aan die groter maatskaplike ontwikkelingsdoelwitte van Solidariteit Helpende Hand.
Droom groot
Met bykans 125 Ons Winkels regoor Suid-Afrika, is hul droom van ‘n toekoms waarin daar ‘n Ons Winkel in elke dorpie en stad in die land is, besig om vinnig ‘n realiteit te word; en hierdie winkels speel 'n kritieke rol in die skep van volhoubare besighede. Hulle aanvaar skenkings van tweedehandse items soos meubels, kombuisware, linne en klere van die publiek, en hulle maak dit beskikbaar teen bekostigbare pryse vir ander gemeenskapslede. Hierdie eenvoudige, maar doeltreffende benadering skep 'n wen-wen situasie waarin mense nie alleenlik van hul onnodige goedere kan ontslae raak nie, maar ook 'n helpende hand kan leen aan diegene wat minder bevoorreg is.
'n Tweede lewe vir ongewensde items
Dit is dikwels maklik om te vergeet hoeveel ongebruikte goedere ons in ons huise het. Hierdie is die ideale geleentheid om jou ongewensde items vir 'n goeie doel te skenk; jou item is 'n geleentheid om 'n positiewe verskil in iemand se lewe te maak en 'n pad te baan na 'n beter toekoms. Wanneer jy 'n item aan Ons Winkels skenk, dra jy direk by tot die gemeenskap. Die wins van die verkope word aangewend om 'n verskeidenheid maatskaplike programme te finansier, insluitend die skep van werksgeleenthede en die ondersteuning van studiefondse vir studente wat 'n kans op verdere onderrig verlang, maar dit nie kan bekostig nie.
Skenk, skenk, skenk
Ons Winkels is nie net winkels nie; dit is jou winkel, dit is my winkel, dit is ons winkel. Dit is 'n gemeenskap van mense wat saamwerk om die drome van 'n beter Suid-Afrika te verwesenlik. Indien daar enige skoolklere, -skoene, tasse, skryfbehoeftes of skoolverwante items by u rondlê en nie gebruik word nie, kom skenk dit asseblief aan Ons Winkel Potchefstroom in James Moroka Straat. Kliek hier om die verkillende areas te sien waar Ons Winkels operasioneel is en waar jy oral 'n verskil kan maak.
Johané van Dyk - Potchefstroom