In die hart van Potchefstroom staan Potchefstroom hospitaal wat as 'n baken van hoop en genesing beskou word. Die stigting van die hospitaal dateer terug na 1900, en het sedertdien verskeie transformasies ondergaan. Dit het ontwikkel van 'n militêre hospitaal tot 'n burgerlike een, met die amptelike opening in 1914. Hierdie instelling, wat met groot vreugde en waardering deur die gemeenskap begroet is, het egter in die hedendaagse era 'n middelpunt van kritiek en ontsteltenis geword.
Frustrasies en Persepsies
Potchefstroom-inwoners het hul frustrasies en hartseer uitgespreek oor die persepsie van agteruitgang in die gehalte van sorg en dienslewering by die Potch hospitaal. Verhale van swak dienste, 'n gebrek aan medemenslikheid, en 'n stelsel wat skynbaar onverskillig staan teenoor diegene wat dit die meeste nodig het, het aan die lig gekom. Hierdie eens trotse instelling word nou deur baie gesien as 'n plek waar swak dienslewering aan die orde van die dag is.
Die hospitaal, met sy visie van gesonde, selfversorgende gemeenskappe en 'n missie om toeganklike, billike en geïntegreerde kwaliteit gesondheids- en ontwikkelingsdienste te lewer, staan in skrille kontras met die uitlatings wat deur die gemeenskap geopper word. Die Batho Pele-beginsels en waardes soos uitnemendheid, omgee, toegang, menswaardigheid, en respek word bevraagteken in die lig van die ervarings van Potchefstroom-inwoners.
Hierdie verhale van wanhoop en frustrasie is 'n oproep tot aksie vir die bestuur van die hospitaal, die gemeenskap, en die wyer rolspelers. Dit beklemtoon die dringende behoefte aan moontlike verandering en herstel, om te verseker dat die hospitaal se visie en missie nie net leë woorde op papier bly nie, maar 'n werklikheid vir almal wat sy dienste nodig het.
Vrae Aan Bestuur van Hospitaal
In die lig van hierdie klagtes en ervarings, het ons die volgende vrae aan die bestuur van die Potchefstroom-hospitaal gestel, en met die skryf van hierdie berig het ons nog geen terugvoering van nie nuwe leier en Besturende Direkteur Dr Dr M Shakung ontvang nie.
Wat is die werklike stand van sake van die Bestuurs oogpunt af, is daar werklik swak sorg, of is dit wanpersepsie van die publiek?
Hoe beplan die hospitaal om die persepsies van vertraagde diagnoses en behandeling, wat 'n direkte impak op pasiëntuitkomste het, aan te spreek?
Watter stappe word geneem om te verseker dat die hospitaal se infrastruktuur en fasiliteite op 'n standaard is wat bevorderlik is vir pasiëntsorg, veral in tye van krisis soos beurtkrag?
Hoe reageer die hospitaal op die bewerings van 'n gebrek aan sorg en watter maatreëls word ingestel om herhaling te voorkom?
Wat is die prosedure vir inwoners om klagtes in te dien, en hoe word hierdie klagtes gebruik om dienslewering te verbeter en te verseker dat alle pasiënte met waardigheid en respek behandel word?
In die lig van die gemeenskap se beroep op politieke betrokkenheid en verandering, hoe sien die hospitaal sy rol in die bevordering van gesondheid en welstand in 'n wyer sosio-politieke konteks?
Goeie Hospitaal, Goeie Diens
Die gemeenskap van Potchefstroom verwag 'n hospitaal wat sy visie van gesonde, selfversorgende gemeenskappe waarlik beliggaam, waar toeganklike, billike en geïntegreerde kwaliteit gesondheids- en ontwikkelingsdienste nie net 'n belofte is nie, maar 'n realiteit vir elke inwoner.
Ons wil graag van ons lesers hoor wat hulle ondervindinge is, en sodra ons enige terugvoer vanaf hospitaal verkry sal ons die artikel opdateer, en weer met gemeenskap deel.