Met ‘n liefde vir musiek, impulsiewe oomblikke en mekaar, het die Namibiër, Wilmar Willemse, en Potchefstroom se Jana McKinnon kragte saamgesmelt om hul unieke klank te deel met enigiemand wat wil luister.

Hoe het julle ontmoet en hoe het die band gevorm?
Dié twee het in 2023 ontmoet; Wilmar het by ‘n lodge in Namibië opgetree en Jana en haar niggie was ‘toevallig’ daar. Na so paar liedjies, het Jana impulsief vir Wilmar gevra of sy saam met hom kan sing. Natuurlik was Wilmar bietjie skepties, maar nadat hy so paar videos van Jana gesien sing het, het hy ingestem dat sy die verhoog met hom deel. Hulle het die ikoniese liedjie, The Story, van Brandi Carlile gesing en net daar het die vonke gespat en ‘n nuwe vuur het vlam gevat. Jana het eers saam met ‘n plaaslike Potchefstroom band opgetree, maar toe haar en Wilmar se stemme saamsmelt, het hulle besluit dat hul unieke klank met ander gedeel moet word en het hul eie ding begin - en dit is waar Tuned in TWO gebore is.
Toe daar gevra word oor hoe hul op die naam besluit het, het hulle die volgende geantwoord. "Ons is baie in sync en in tune met mekaar. Daar is ook lekker speling met die alliterasie en die feit dat instrumente ge-tune moet word…en natuurlik is dit net hulle twee waaruit die band bestaan."

Hoe sal julle jul musiekstyl beskryf en hoe het dit gegroei sedertdien julle begin het?
Wanneer ‘n mens hul musiek hoor, kom daar verskillende genres en musiekstyle na vore. Hulle fokus is meer op alternatiewe, country en folk musiek - dink Mumford and Sons vibes. Hoe meer tyd en oefening hul in die sessies gesit het, hoe meer het hulle klank gegroei. Só het Tuned in TWO se klank en ritme ontwikkel en het hulle mekaar se stemme regtig begin verstaan.
Wie beïnvloed en inspireer julle?
Wilmar en Jana is gróót aanhangers van Shovels & Rope - ‘n getroude Amerikaanse, musikale duo. Hierdie duo dien ook as rolmodelle en inspirasie vir die band en op die ou end is dit waarheen hul werk. Dit is ook Shovels & Rope se liedjies ‘Birmingham’ en ‘After the Storm’ wat vir hulle twee persoonlik ‘n dieper betekenis het. Cam en The Lumineers dien ook as musikale inspirasie vir Wilmar en Jana.
“As julle met enige band kan collaborate, wie sal dit wees en hoekom?” Na so paar oomblikke se gesels, het hul genoem dat hul graag saam met Bottomless Coffee Band en Red Wine Acoustics sal wil optree. Laasgenoemde het as die wenners weggestap by 2023 se Potch Unplugged kompetisie. "Internasionaal sal ons graag saam met The Lumineers wil optree of collaborate."
Wat is julle proses wanneer julle nuwe liedjies skryf?
Wilmar skryf die meerderheid van die liedjies, maar dit begin gewoonlik as ‘n gedig en dan begin die twee mix en match en kyk of die geskrywe saam met die begeleiding werk. Wat soms begin as ‘n freestyle jam, het al vrugte opgelewer. Hierdie twee komplimenteer mekaar baie goed op alle vlakke; Wilmar tokkel die kitaar asof hy dit al van geboorte af doen en Jana se unieke stem dra by tot Tuned in TWO se unieke klank.
Most memorable optrede tot dusver?
Hulle gunsteling optrede tot dusver was ‘n impulsiewe akoestiek 'show' in Swakopmund. Die paartjie het nie geld gehad vir hulle date die aand nie, toe gaan staan hulle op die straathoek en sing vir ‘n halfuur om so paar rand te maak vir hulle afspraak. “Dit was ‘n goor dag, maar dit was een van die most memorable optredes vir ons”, vertel hulle met ewe breë glimlagte. Die duo is nog redelik nuut en probeer hul naam daar buite kry, so platforms soos Potch Unplugged kompetisies en akoestiek aande by deMilko, is ‘n groot voordeel - nie net vir hulle nie, maar enige opkomende kunstenaar.

Projekte en planne
Die wêreld is hulle oester, maar Tuned in TWO se hoofdoel is om naam te maak vir hulself en aan moontlike oorspronklike vrystellings te werk hierdie jaar. Hulle wil by so veel as moontlik gigs optree, geleenthede aangryp wat na hulle kant toe kom en hulle het hul visier daarop om deel te vorm van ‘n plaaslike kerk se aanbiddingspan.
Die gemeenskap kan uitsien na vertonings deur Tuned in TWO by deMilko tydens die Potch Unplugged kompetisie die 21ste Februarie en ook by die Rooy Food Market, wat die 24ste April plaasvind. Indien hul deurdring na die eindrondte van die Potch Unplugged kompetisie, sal hul die 29ste Februarie ook by deMilko optree waar die wenner aangekondig sal word.
Enige raad of advies vir opkomende kunstenaars?
Hul raad aan opkomende kunstenaars is eenvoudig - doen dit net! As daar geleenthede kom, gryp dit aan met altwee hande; die ergste wat iemand vir jou (as kunstenaar) kan sê, is nee. “Niemand gee eintlik so baie om oor jou of jou reputasie nie”, vertel Jana laggend. “Gaan geniet jouself, jy is in die prime van jou lewe. Jy wil nie eendag terugkyk en wens jy het dit gedoen nie.”

Die grootste les wat hul geleer het, is om voorbereid te wees tydens elke optrede. “Onvoorbereide, improvisasie optredes werk nie [altyd] so lekker nie. Jy het ekstra selfvertroue as jy weet wat jy volgende gaan doen”, vertel Wilmar. Nog ‘n brokkie advies wat hul kan deel, is hoe meer jy oefen, hoe meer leer jy mekaar se stemme ken - op so ‘n wyse vind jy jou ritme en unieke klank.
'n Spesiale avontuur
Vir Wilmar en Jana is hierdie ‘n kosbare avontuur, juis omdat hul die voorreg het om dit met mekaar te kan deel. Tuned in TWO hoop dat hul musiek luisteraars sal inspireer om die lewe voluit aan te pak en as inspirasie te kan dien en wys dat enigiemand enigiets kan behaal. “Dis nie wat jy het nie, dis wat jy daarvan maak. Klim uit jou gemaksone uit.” Hulle besef ook dat niks uit hul eie krag gedoen word nie, maar dat God al die geleenthede vir hulle skep.
Hou hierdie spasie dop; hierdie band gaan nog hoë hoogtes bereik en ons sien uit om hulle reis te volg.
Potchefstroom - Johané van Dyk