'n Paasnaweek met betekenis in die hart van die Vrystaat
Op Goeie Vrydag, 18 April 2025, gaan Vredefort se strate weer lewe kry met kruise, lofprysing en 'n gemeenskap wat saamstap op die Via Dolorosa – oftewel die “sorrowful way”. Dis ‘n 3 km staptog deur die dorp, maar dis nie net ‘n oefensessie nie – dis ‘n pad van herinnering, dankbaarheid en hoop.
Hoe’t dit alles begin?
Vier jaar terug het 'n klomp locals saamgekom met ‘n vraag: Hoe maak ons Paasfees weer relevant vir ons dorp? Hulle was nie lus vir net nog ‘n oggenddiens nie. So is die Kruistog gebore – ‘n stap van betekenis, gereël deur gewone mense van Vredefort en Parys, sonder kerknaam op die voorstoep. Hier is almal welkom – dis nie oor wie jy is of waar jy aanbid nie.
Wat’s die plan vir die dag?
Tyd en plek:
Datum: Vrydag, 18 April 2025 (Goeie Vrydag)
Tyd: 10:30 – 14:00
Plek: Vredefort Sportgronde
Toegang: Mahala, dis reg – gratis!
Die program begin 10:30 met musiek van plaaslike talent, en daar’s selfs 'n kinderprogram agter die groot tent. El Sali-kleuterskool se span hou die kleingoed besig, so ouers kan rustig stap of sit.
Daar’s kos- en koeldrankstalletjies vanaf 10:00 vir die wat 'n bietjie krag wil inpak voor die stap. Die groot tent het plek vir 3000 mense – so jy hoef nie jou eie stoel te bring nie, tensy jy regtig geheg is daaraan.
Om 11:00 begin die amptelike deel: lofprysing deur Richann Brussouw en Andries D’Alebout, gevolg deur nagmaal en die indrukwekkende kruisformasie op die rugbyveld. Ja, daar’s ‘n drone of twee in die lug, so hou jou kruis reg!
Teen 12:00 begin die staptog. Dit’s ‘n gemaklike roete van net onder 3 km – oud en jonk kan saamsleep. Bring jou eie kruis, groot of klein. En as jy nie kans sien om te stap nie, moenie worry nie – daar is wildsbesigtiging-voertuie om jou te help of jy kan in jou kar volg.
Wat gebeur ná die stap?
As die konvooi weer terug is by die sportgronde, kry elkeen ‘n aandenking wanneer jy onder die rugbydoelpaal instap. Dan’s daar nog musiek, iets om te eet, en ‘n bedieningstent vir dié wat wil bid of net stil wees.
Of jy nou wil sing, sit, bid of piekniek hou – dis jou dag. Bring jou kombers, jou cooldrink en dalk daai een ouma se wortelkoek wat altyd wen.
Die roete in kort
Die staptog begin by die sportgronde in Eerstelaan. Dan gaan die groep af tot in Voortrekkerstraat, draai links in Oranjestraat, links in Dewetstraat, en dan weer terug in Eerstelaan na die beginpunt. Die hele pad is vol simbole, stories en stasies wat Jesus se lewe uitbeeld – iets nuuts elke jaar.
So as jy opsoek is na iets anders hierdie Paasnaweek – iets met betekenis, sonder kaartjiekoste – pak daai stapskoene, bring jou kruis, en join die Kruistog. Want soms is die eenvoudigste dinge die wat die diepste tref.
