Potchefstroom maak weer gereed vir 'n groen kuier
Op 24 April 2025 om 08:30 is dit weer daai tyd – Agricol hou hul jaarlikse Groendag by hul navorsingstasie in Potchefstroom, en as jy iets met gewasse, weiding of net ‘n bietjie landbousake te doen het, moet jy dié dag op jou kalender sit.
Wat gaan aan op die dag?
Agricol bring hulle slimkoppe – die spesialiste wat alles weet van dekgewasse, akkerbougewasse en weidingsoplossings – reguit na jou toe. Daar gaan meer as 45 verskillende gewasse, 120 kultivars en 15 weidingsmengsels wees wat jy self kan bekyk. Dis nie net vir kyk nie – dis vir vra, leer, en idees kry oor wat dalk op jóú plaas kan werk.
Dis wat jy daar gaan sien:
Eenjarige en meerjarige somer- en winterweidings
Verskillende dekgewasmengsels vir somer en winter
Nuwe sonneblom-, sojaboon- en mieliekultivars
En vir die koringboere – ‘n splinternuwe koringreeks
Wie moet dit bywoon?
Enigiemand wat belangstel in beter gewasse, nuwe tegnologie in weidings of net wil sien wat aangaan in die wereld van plantverbetering. Boere, landboukundiges, studente – almal's welkom.
Waar is dit?
Dis by Agricol se navorsingstasie in Potchefstroom, net 10km buite die dorp op pad Carletonville toe. So ry vroeg, maak ‘n draai by die Boskop vulstasie vir koffie en kom kuier saam.
RSVP voor 17 April
Laat weet jou naaste Agricol-agent voor 17 April as jy beplan om te kom – dis net sodat hulle kan weet hoeveel mense om voor reg te maak. Niemand hou van te min koffie of worsrolletjies nie, né?
Dis nie ‘n fancy landbouskou met blink goed en musiek nie – dis prakties, plaas-gefokus en reguit. Jy gaan iets leer, dalk nuwe kontakte maak en moontlik met 'n paar idees teruggaan plaas toe.
Moet dit nie misloop nie.
