Die sesjarige Isabella van der Westhuizen van Klerksdorp het die wêreld se verhoog betree en haar merk gemaak by die Royal International Miss Princess-kompetisie 2024, wat verlede naweek in Orlando, Florida plaasgevind het. Met haar talent en deursettingsvermoë het sy in verskeie kategorieë deelgeneem en 'n verskeidenheid pryse ingepalm.

Isabella se ma, Bonita, vertel trots van haar dogter se prestasies. "Sy was die wenner in Scrapbook, Power of the Crown, en Best Fun Fashion Attire. Sy het ook die 3de plek in Academic Excellence, Photogenic Portfolio, en Print Model behaal. In Community Service was sy 4de, en het die 2de plek in Talent Showcase en Casual Wear gewen. Isabella het die 1ste plek in International Wear behaal en was die wenner in Purple Passion en Top Model 1st Runner Up, asook Regal Excellence Recognition." Uit 'n groep van 22 meisies van oor die wêreld heen, het Isabella die titel gewen. Sy het ook 'n studiebeurs vir Pay It Forward ontvang.

Behalwe vir haar kompetisieprestasies, het Isabella nuwe vriende gemaak en was sy opgewonde om Disneyland te besoek, een van haar vele drome. Sy het ook haar eie platform en liefdadigheidsprojek genaamd "Christmas All the Time," waar sy Kersboksies vir minderbevoorregte kinders maak en skenk, en 'n groentetuin begin om kinders te voed.

Isabella se passies strek verder as net liefdadigheid. Sy geniet kuns, woon gereeld kunsklasse by, en neem aan verskeie kunskompetisies deel. Sy is ook 'n entoesiastiese netbalspeler en gimnas.
Isabella van der Westhuizen is 'n voorbeeld van hoe 'n jong kind groot drome kan hê en dit kan bereik met harde werk en 'n groot hart vir ander.



.jpeg)
