As jy Potchefstroom ken, dan weet jy mos – ’n mark is nie net vir inkopies nie. Dis ’n kuierplek, 'n ontmoetplek, en ja... soms 'n plek waar jou kind se gesig vol versiersuiker eindig. Hierdie komende naweek is geen uitsondering nie, want die gewilde VARSmark is weer op die kalender, en dit bring vars geure, plaasprodukte én ‘n bietjie chaos in die vorm van cupcake versiering.

Cupcake Chaos – Vrydag, 4 April 2025
Op Vrydag oggend 4 April om 08:30 skop die mark af met 'n cupcake versiering sessie wat belowe om kleurvol en lekker morsig te wees. Teen net R25 kry jou kind nie net die geleentheid om hul eie cupcake te versier nie, maar ook ’n babychino om hulle kreatiewe energie af te koel. Daar is 'n speelarea vir die kinders en onderdak sitplek vir die grootmense wat net koffie en rus soek.
Ontbyt is beskikbaar van 06:30 af – net betyds vir daai vroeë oggend koffiedors.

Die Groot Mark – Saterdag, 5 April 2025
Saterdag is wanneer die regte aksie begin. Van 07:30 tot 12:00 sal die mark wemel van aktiwiteit. En die beste van alles? Toegang is heeltemal gratis.
Wat kan jy verwag:
Vars groente en vrugte (reg van die plaas af)
Eiers en kaas van plaaslike produsente
’n Verskeidenheid vleis – bees, skaap, vark, lam én hoender
Lekker koffie en kos om sommer daar te eet
En 'n hele klomp stalletjies met interessante goed – van handgemaakte produkte tot daai een ding wat jy nie geweet het jy nodig het nie
Of jy nou ’n vetplant soek, vars hoender, of net ‘n goeie rede wil hê om buite te wees – die VARSmark bied iets vir almal. Dis plaaslik, dis lekker en dis net so bietjie anders as jou gewone winkelervaring. So bring jou mandjie, jou kinders en dalk daai vriend wat altyd te veel koop. Jy weet wie hy is.