Ons almal weet hoe dit gaan... Jy sit daar, troulysie in die hand, bly om elke naam by te voeg van mense wat jy graag wil hê moet deel wees van jou spesiale dag.
Jy dink, "Dis net familie, en daardie ou skoolvriende, en natuurlik kollegas, en die buurman wat altyd sy grassnyer uitleen..." Voor jy jou oë kan uitvee, is jou gaste lys so lank soos 'n Checkers inkopielys op 'n Saterdagoggend. Maar geen stres nie, jy het mos gehoor dat 10-20% van die mense wat jy nooi, nie eintlik sal opdaag nie. Of so het hulle gesê...

Dan, boem, al wat jy sien wanneer die RSVP’s inkom is ‘n massiewe “JA!” van ALMAL! Selfs die tannie wat jy seker was sou nee sê, kom darem. Nou wat? Die venue is vol, jou spaarvarkie is al lankal geslag, en jy is seker dat jy op 'n punt is waar die idee van "te veel mense" skielik baie realisties voel.
Moet asseblief nie paniekerig raak nie, want daar is altyd 'n plan om te maak, en ek gaan jou deur hierdie klein (ok, miskien groot) troukatastrofe help.
1. Die eerste stap: Asem in, asem uit
Ja, ek weet, die natuurlike reaksie is om daardie RSVP’s te sien en in 'n ligte paniekaanval te verval. Maar kalm bly, dis jou groot dag, en ons kan hierdie storie uitsorteer. Begin deur 'n deeglike hersiening van jou RSVP’s te doen. Dubbelcheck of almal wat gesê het hulle kom, regtig gaan kom. Soms stuur mense so vinnig hulle antwoord dat hulle vergeet om aan te dui of hulle kinders ook saambring, of dalk hul plus-one (en wie dit is!). Stuur vir daardie onseker gevalle 'n vinnige WhatsApp en kry helderheid.
2. Tel die getalle op en stel vas wat jy regtig het
Wanneer jy die finale syfers het, moet jy maar aanneem dat daar 'n klein kans is dat daar op die dag self een of twee mense dalk weens noodsaaklike omstandighede sal kanselleer. Maar dis beter om met jou huidige getalle te werk en jouself voor te berei vir die volle aanwesigheid van almal.
3. Ruimteprobleme? No biggie!
As jy nou sit met te veel mense vir die spasie in jou venue, bel jou venue dadelik. Die kans is groot dat hulle al voorheen so 'n situasie moes hanteer het, en hulle mag dalk wonderlike, kreatiewe oplossings hê. Hulle kan dalk die uitleg van die eetkamer bietjie aanpas, ekstra tafels in 'n ander vertrek opsit, of selfs die dansvloer na 'n ander area skuif. En as jy 'n donutmuur of fotohokkie beplan het... wel, dalk moet jy dit oorweeg om dit buite te sit. Nog 'n goeie opsie is om 'n marquee (daardie groot wit tente) te huur as daar buitelugspasie beskikbaar is.

4. Wat van die seremonie en die drankonthaal?
As jou seremonie en drankonthaal op 'n ander plek as die onthaal gehou word, maak seker dat daardie venues ook die ekstra gaste kan hanteer. Niks is so sleg soos wanneer mense buite die kerk of saal moet staan omdat daar nie plek is nie!
5. Kan jy nie meer mense akkommodeer nie? Nou moet jy dalk jou lysie hersien...
Ok, ons almal weet dat dit nie maklik is om iemand te “uninvite” nie, en om dit te doen is ook nie baie vriendelik nie. Maar as jy regtig op 'n punt is waar jy nie meer mense kan huisves nie, kan dit dalk tyd wees om die moeilike gesprekke te voer.
Begin by mense soos werk kollegas of vriende wat mekaar ken en dalk nie omgee om plus-ones te los nie. Hulle verstaan sekerlik dat plek beperk is, en sommige mense mag dalk selfs verlig wees dat hulle nie vir die volle ete hoef te bly nie – veral as hulle kinders het en sukkel om kinderoppassers te kry. Wees net reguit, eerlik en respekvol. Mense waardeer dit gewoonlik.
6. Bring die groot guns in – gesels met jou verskaffers
Maak seker jy laat jou ander verskaffers ook weet van die groter getalle. Jou koekbakker moet dalk ekstra lae koek inwerk, en jou blommerangskikker moet dalk 'n paar ekstra middelpunte byvoeg. As jy ook vervoer of stasioneer dienste gereël het, laat hulle weet dat hulle dalk ekstra gaste sal moet rondry.

7. Jou begroting begin nou sweet – wat nou?
Ag nee! Die rekeninge is al amper betaal, en nou moet jy nog vir meer mense cater? Dis 'n probleem. As jou begroting nie meer ruimte het nie, is daar twee opsies: jy kan probeer om 'n bietjie ekstra geld êrens uit te krap (alhoewel dit makliker gesê as gedaan is!), of jy kan jou begroting aanpas. 'n Goeie plek om te begin sny is by die kos en drank. Praat met jou caterers – miskien kan jy die canapés sny, of die sjampanje-toast uitlaat. Of miskien 'n buffet-opsie oorweeg wat goedkoper as 'n sit-down ete is.
8. Is daar ander maniere om te spaar?
Jy het al jou rok, jou pak, en al die belangrikste dinge gekoop, so dis nie juis die tyd om by groot dinge te sny nie. Maar jy kan dalk snyop die dekor, geskenkies vir gaste, of die goed wat mense nie regtig gaan mis nie. Onthou, mense kom nie vir die fancy ekstras nie, hulle kom vir jou en die troue self. As iets nie noodsaaklik is nie, kan jy dit miskien los.
9. Vertrou op jou oplossings
Jy het nou heelwat planne gemaak en skuiwe gemaak, so vertrou dat alles reg sal verloop. Onthou, dis jou dag, en jou gaste sal nie agterkom as jy laaste-minuut-veranderinge gemaak het nie. Solank daar kos is, lekker musiek en goeie geselskap, sal niemand jou daarop wys dat die dansvloer effens kleiner is as wat beplan was nie.
Die waarheid is, troubeplanning is soos 'n groot legkaart – soms pas al die stukkies nie so maklik in soos jy wil hê nie, en soms moet jy 'n bietjie kreatief wees om alles reg te kry. Maar op die ou einde is die belangrikste dat jy en jou maat die dag geniet, omring deur mense wat lief is vir julle. En as daar 'n bietjie meer mense is as wat jy oorspronklik beplan het... wel, des te meer liefde, nie waar nie?
En hey, as daar 'n bietjie te min plek is vir almal om saam te dans, dan beteken dit net dat julle nader aan mekaar moet beweeg op die dansvloer – en wat is meer romanties as dit?








.jpeg)
