Die wêreld van troues het oor die jare drasties verander. Waar troues eens gedefinieer was deur streng tradisies en reëls, is moderne troues baie meer buigsaam.

Mense kies deesdae om hul spesiale dag op 'n manier te vier wat meer persoonlik is, sonder om noodwendig gebonde te wees aan ou gewoontes. Alhoewel hierdie veranderinge dikwels ‘n verligting bring, is daar iets nostalgies aan die tradisies wat ons stadig maar seker verloor. Kom ons kyk na 'n paar van hierdie verlore trou tradisies en wat hulle beteken het.
Wie Betaal?
Een van die eerste groot tradisies wat die deur gewys is, is wie vir die troue betaal. Vroeër jare was dit amper ‘n gegewe dat die bruid se familie, en veral haar pa, die troue sou finansier. Dit het dikwels beteken dat die pa van die bruid nie net vir die troue betaal het nie, maar ook 'n groot sê gehad het oor hoe dinge moes verloop.
Tans sien ons baie paartjies wat self vir hul troue betaal. Hierdie skuif gee die bruidspaar baie meer beheer oor die begroting en die besluite. Geen “maar ek betaal daarvoor, so ons doen dit my manier” nie! Dit maak die beplanning ook bietjie makliker en verseker dat elke besluit saam geneem word.
Geskenke
Vroeër was troues die perfekte geleentheid om alles wat jy nodig het vir jou eerste huis saam in te samel. Gaste sou praktiese geskenke bring soos kombuistoestelle, breekware, of selfs meubels. Dit was sinvol, aangesien baie paartjies eers ná die troue saam begin woon het.
Vandag is dinge heel anders. Die meeste paartjies woon reeds saam voordat hulle trou, wat beteken dat hulle al die “essensiële” goed alreeds het. Daarom sien ons ‘n skuif weg van tradisionele geskenkregisters na alternatiewe opsies, soos bydraes tot 'n wittebrood of selfs skenkings aan liefdadigheid. Dit maak dinge persoonliker en praktieser.

Wittebrood
Die wittebrood bly steeds gewild, maar een groot verandering wat ons sien, is dat dit nie meer die norm is om direk na die troue op hierdie eksotiese vakansie te vertrek nie. Troues is uitputtend, en baie paartjies verkies nou om ‘n kort pouse te neem voordat hulle die groot vakansie aanpak.
Dit staan bekend as ‘n mini-moon – 'n kort wegbreek naby die huis vir ‘n paar dae van ontspanning, gevolg deur ‘n langer wittebrood op ‘n later stadium. Hierdie benadering gee paartjies ook meer tyd om vir die wittebrood te spaar en nie dadelik hul hele bankrekening leeg te maak ná die troue nie.
Kleurkode
Dit is waarskynlik een van die meer subtiele tradisies wat stadig begin uitsterf het. Vroeër het troues dikwels net twee spesifieke kleure gehad, wat elk 'n kant van die familie verteenwoordig het – baie “Game of Thrones”-styl, nè? Maar deesdae verkies paartjies om óf net een kleur te kies óf ‘n hele palet van kleure te gebruik wat hulle persoonlike styl weerspieël. Die dae van streng kleurkoördinasie is verby!
Saterdag Troues
Nog ‘n tradisie wat nie noodwendig verdwyn het nie, maar besig is om te verander, is troues op Saterdae. Troues op Vrydae, Sondae en selfs weeksdae raak al hoe gewilder, veral omdat dit minder kos om op 'n weeksdag te trou as op ‘n besige Saterdag. Dit beteken natuurlik ook dat gaste dalk meer verlof moet vat, maar baie paartjies vind dat hulle hiermee ‘n meer bekostigbare troue kan beplan.

Volle Dag Troues
Die reuse-troue met ‘n seremonie wat die hele dag aanhou, is nie meer so gewild soos vroeër nie. Al hoe meer paartjies kies vir korter troues, met slegs ‘n seremonie gevolg deur 'n intieme ete. Dit maak die geleentheid kleiner, meer persoonlik, en minder formeel. Baie mense, veral dié wat dalk al voorheen getroud was, vind dat hulle nie noodwendig die hele nag wil partytjie hou nie, en verkies om dit eenvoudig en knus te hou.
"Something Old, Something New"
Die ou rympie van "something old, something new, something borrowed, something blue" is een van daardie tradisies wat min mense nog volg. Vroeër was dit amper ‘n moet, maar nou kies baie bruide om dit oor te slaan. Dit maak sin – tensy daardie items werklik betekenisvol is, voel dit dikwels net soos ‘n onnodige taak om dit alles bymekaar te kry. Sommige bruide voeg steeds elemente in, soos om ‘n stukkie van hul ma se trourok te gebruik of ‘n erfstuk in te sluit, maar vir die meeste het hierdie rympie sy glans verloor.
Ooreenstemmende Uitrustings
Vroeër was dit die norm dat al die bruidsmeisies presies dieselfde aantrek – dieselfde rok, dieselfde kleur, dieselfde styl. Hierdie tradisie het eintlik 'n taamlik vreemde oorsprong: die bruidsmeisies was oorspronklik veronderstel om soos die bruid aan te trek om haar te beskerm teen ontvoering. Gelukkig is daardie probleem nie meer op ons troueslysie nie!
Deesdae het baie paartjies hierdie tradisie gemoderniseer deur eerder ‘n kleurpalet te kies en die bruidsmeisies toe te laat om hul eie rokke in verskillende style te dra, solank dit by die kleurskema pas. Dit help om te verseker dat elkeen gemaklik voel en iets dra wat haar pas.

Nie Die Bruid Sien Nie
Om die bruid voor die troue nie te sien nie, was vroeër ‘n vaste reël. Maar deesdae breek paartjies al hoe meer hierdie tradisie. Baie paartjies verkies om die oggend saam deur te bring, ontspanne te wees en die dag sonder spanning in te gaan. Hulle sien mekaar dalk selfs voor die seremonie om foto's te neem, wat die dag se skedule baie eenvoudiger maak.
Blomme Ruikers
Hoewel blomruikers nog baie gewild is, begin ons al hoe meer nie-tradisionele ruikers by troues sien. Bruide gebruik dinge soos papierblomme, knope of selfs alternatiewe soos legoblokke vir die mans se knoopsgate. Dit gee jou nie net ‘n unieke herinnering nie, maar dit hou ook baie langer as vars blomme!
Die Wit Rok
Die groot, wit, vloerlengte trourok bly steeds 'n droom vir baie bruide, maar dit is nie meer die enigste opsie nie. Trourokke kom nou in alle style, vorms en kleure. Van sag pienk tot helder blou – die moderne bruid kan kies wat haar pas. En wie sê jy moet lank gaan? Baie bruide kies korter rokke met kleurvolle skoene vir ‘n prettiger, meer funky voorkoms.
Die Sluiertjie
Die sluier is ook besig om veld te verloor. Dit was vroeër ‘n moet vir elke bruid, maar deesdae kies baie vir meer moderne haarstukke, blomme in die hare of selfs ‘n tiara. Dit gaan oor wat vir jou werk, en as die sluier nie jou styl is nie, kan jy maklik iets anders kies.

Die Eerste Dans
Die tradisie van die eerste dans is steeds daar, maar hoe dit gedoen word, verander vinnig. In plaas van die stadige, formele skuifel om die dansvloer, sien ons nou paartjies wat funky roetines uitvoer of sommer net ‘n gelukkige, opwindende liedjie kies waarop almal saam kan dans. Vir diegene wat nie juis van dans hou nie, is daar selfs paartjies wat die eerste dans heeltemal oorslaan.
Weggooi Ruiker
Die ou tradisie van die ruiker-gooi, waar die bruid haar blommeruiker na die ongetroude dames gooi, is ook aan die kwyn. Baie bruide hou eerder hul ruiker as ‘n herinnering, en daar is deesdae minder druk om die “volgende een te wees wat trou”. Hierdie tradisie voel vir sommige net 'n bietjie gedateer en ongemaklik.
Hoewel baie trou tradisies deur die jare verlore gegaan het, is die mooi van moderne troues dat jy kan kies wat vir jou werk. Of jy nou ‘n tradisionele troue wil hê of jou eie moderne draai wil byvoeg, dit is jou dag en jy kan dit vier soos jy wil. Tradisies kom en gaan, maar die belangrikste is dat jou troue jou liefde en vreugde moet weerspieël.