Die Hartklop van Mooirivier – Mnr. JH van Vuuren deel sy Visie vir die Tokkies
- Yolandi Botes

- Feb 23
- 3 min read
By Laerskool Mooirivier in Potchefstroom is die lug gevul met die energie van kinders wat "sterk en dapper" grootword. Ons het gaan aanklop by die skoolhoof, mnr. JH van Vuuren, om meer te wete te kom oor die skool se byna 90-jarige bestaan, sy unieke bynaam, en die pad vorentoe.

Die Evolusie van Waardes
Mnr. Van Vuuren, sedert Laerskool Mooirivier in 1937 sy deure geopen het, hoe het die skool se kernwaardes oor die jare verander?
"Baie dinge het verander, maar die hart van die skool het dieselfde gebly. Waar die fokus vroeër veral op dissipline, orde en akademie was, het ons kernwaardes gegroei om ook die ontwikkeling van die hele kind se karaktervorming te beklemtoon. Ons bou steeds op die fondament van respek, geloof, lojaliteit en trots, maar vandag fokus ons meer op menswaardigheid, moed en omgee. Ons wil hê elke Tokkie moet gereed wees vir die toekoms, sonder om ons kosbare tradisies prys te gee."
Die Geheim van die "Tokkies"
Elke skool het sy stories. Is daar ’n interessante feit uit die skool se verlede wat die meeste mense dalk nie ken nie?
"’n Interessante feit is die oorsprong van ons bynaam, "Tokkies." Oorlewering vertel dat Engelse studente by die nabygeleë teologiese koshuis opgemerk het dat die Afrikaanse studente baie gesels en gesê het hulle “talk a lot.” Dit is in die volksmond verdraai na “tokkelok,” en uiteindelik het die jong leerders bekend geword as “Tokkies.” Toe die skool in 1937 onafhanklik begin het, was die naam reeds deel van ons identiteit."
’n Bron van Sukses
Oud-leerders is dikwels die spieël van ’n skool se sukses. Wie is van die onlangse uitblinkers waarop die skool trots is?
"Ons spog met talle oud-leerders wat floreer. Van die mees onlangse sportsterre sluit in Sunel Smit (Protea-netbalspeler), Gerhard Steenekamp (Springbok-rugbyspeler) en Luandre Pretorius (Protea-krieketspeler). Dit is vir ons ’n bewys dat die fondasie wat hier gelê word, wêreldklas is."

Mylpale en die Toekoms
Wat beskou u as die skool se grootste mylpale van die afgelope tien jaar?
"Te midde van uitdagings het ons wortels stewig in Christus geanker gebly. Akademies het ons ’n voorloper geword met inisiatiewe soos Kodering en Robotika, die Leeslaboratorium en Aplus-wiskunde. Ons poog om elke leerder se potensiaal ten volle te ontgin deur die jongste tegnologie in te span waar prakties moontlik."
Kan die gemeenskap uitsien na enige nuwe projekte?
"Ja, sonder om alles te verklap! Ons kapitale projektekomitee, wat uit kundiges bestaan, bestuur verskeie inisiatiewe om ons Tokkies se leeromgewing te versterk. Ons fokus op volhoubare verbeterings sodat ons voortdurend kan groei."
’n Visie vir 2046
Waar sien u Laerskool Mooirivier oor 10 tot 20 jaar van nou af?
"Ons sien onsself as die voorkeurskool in die gemeenskap,’n trotse Afrikaanse mediumskool waar ons die taal doelbewus beskerm en koester. Ons droom van ’n skool wat as akademiese voorloper bekend staan, waar tegnologie as ’n hulpmiddel gebruik word sonder om die kern van menslike verhoudings en sterk waardes te verloor. Ons bou aan ’n toekoms waar tradisie en vernuwing hand aan hand stap, want by Mooirivier glo ons: ONS KAN."
Vinnige Feite oor Laerskool Mooirivier:
Taal: Afrikaans as medium met Engels (EAT) en Setswana (inleiding)
Benadering: Holistiese ontwikkeling en menswaardigheid.
Personeel: Roepingsbewuste onderwysers wat deurlopend ontwikkel word.




Comments