Die potte prut tydens Homestead Butchery se 2025 Potjiekos Kompetisie
- Johané

- Nov 24
- 2 min read
Ter viering van hul vierde verjaarsdag het Homestead Butchery, nes verlede jaar, ‘n Potjiekos Kompetisie aangebied om die gemeenskap deel te maak van die feesviering!

Die dag skop af
Die dag het al skuins ná 07h00 begin en teen 15h30 was die stalletjies besig om stadigaan op te pak, met niemand wat gereed was om dié jolige dag te eindig nie. Die bekende, lekker, trots Suid-Afrikaanse reuk van vuur het die lug al vroeg-vroeg gevul en kort voor lank het die eerste reuke uit die potte begin trek. Met ‘n indrukwekkende aantal besighede wat ingeskryf het, was daar tog ‘n mate van erns tydens hierdie prettige dag.
Groot vermaak
Die seremoniemeester, Kees, het gesorg dat deelnemers sowel as klante die hele dag vermaak word. Lekker saamsing treffers het in die agtergrond gespeel, party spanne het die groen en goud met trots gedra en daar was ‘n algehele gevoel van samehorigheid…en gesonde kompetisie. PD Conradie en Divan Kotze het ook gesorg vir groot vermaak toe hulle in ‘n hoender en alien kostuum onderskeidelik hul verskyning maak en tussen die stalletjies begin deurloop. Hulle het later die dag vir Bokkie ontmoet en daar was selfs resies gehardloop.

'n Kinkel in die kabel
Terug by die kompetisie. Nie net moes deelnemers se potjies die beoordelaars beïndruk nie, die bykosse, versierings van die stalletjie en kreet moes ook ‘n blywende indruk laat en het deel gemaak van die totale punte toekenning. ChatGPT was baie spanne se beste maatjie, veral toe die beoordelaars ‘n kinkel in die kabel gooi en aankondig dat daar ‘n kreet of liedjie gesing moet word. Dit het gesorg vir baie lag tydens beoordeling.

En die wenners is...
Na ‘n hele dag se vuur stook, potte roer en “nog so bietjie”, was dit eindelik tyd vir die beoordelaars om die spanne te besoek en die kos te proe. Daar was jou tradisionele potte en dan was daar ‘n paar eksotiese disse. Op die ou end van die dag het Kooperasie Kroeg & Kos weggestap met die trofee in die Restaurant afdeling - vir die tweede jaar in ‘n ry! En dit was Flotek wat koning gekraai het in die Besigheid afdeling.

Dankie, Homestead
Baie, baie geluk aan dié twee spanne wat die ander gewys het waar Dawid die wortels (en aartappels en uie) begrawe het. Baie dankie vir nog ‘n wonderlike dag van pret, kameraadskap en feesviering, Homestead Butchery! Die Potchefstroom gemeenskap sien uit om nog baie verjaarsdae saam met julle te vier.
____________________________
Johané van Dyk - Potchefstroom
Foto's van die dag
*Verskaf deur The Go-To Guy en Flotek North West Facebook


























Comments