Gerhard Steyn vier ware liefde met nuwe enkelsnit
- Charlene Bekker

- 19 hours ago
- 2 min read
Gerhard Steyn is terug met ’n splinternuwe enkelsnit, “Vra Net Vir Jou” – ’n opregte liefdesliedjie wat geïnspireer is deur sy eie liefdesverhaal met sy vrou. Met dié kontemporêre vrystelling deel hy ’n persoonlike hoofstuk uit sy lewe en herinner luisteraars daaraan dat ware liefde soms op die mees onverwagse manier sy pad na jou vind.

Dié liedjie sluit aan by die romantiese aanslag waarvoor Gerhard bekend is met treffers soos “Rooi Roos”, “Parfuum” en “Jy’s My Hartklop”, maar bring terselfdertyd ’n vars, moderne klank. “Dis wel bietjie vinniger en het ’n vibe,” vertel hy.
Die inspirasie vir die liedjie lê diep in sy eie liefdesverhaal. “Ons het mekaar vir drie maande nooit gesien nie. Om eerlik te wees, ons het nooit uitgegaan nie,” vertel Gerhard. "Maar vir ’n jaar lank het ek geweet dis my trouvrou.
En ek het met alles in my daarteen baklei.” Hierdie ervaring vorm die hart van “Vra Net Vir Jou”. Die lirieke handel oor die besef dat wanneer God iemand op jou pad plaas, daar geen rede is om weg te stap of die bande te verbreek nie.
“Ek glo die publiek sal daarmee resoneer, aanklank vind en hul eie storie in die liedjie ontdek,” sê hy. Vir Gerhard was musiek nog altyd bedoel om mense vir ’n oomblik uit die alledaagse te neem.
“Ek wil hê my musiek moet vir mense ’n wegvlug wees – iets wat hulle laat goed voel en waarmee hulle hulself kan vereenselwig.” Die romantiese tema word verder uitgebou in die musiekvideo, wat deur Coolerbox Brothers vervaardig is.
Die video vertel die liefdesverhaal van Gerhard en sy vrou op filmiese wyse, met Kate Roothman en Gerald Steyn, wat kykers ook as Nicolette en Uys uit Binnelanders ken, in die hoofrolle. “Ek het vir Kate Roothman en Gerald Steyn gevra om in die musiekvideo te speel.
Hulle was ook ’n paartjie op Binnelanders, en ek het geweet hulle sou die storie perfek kon vertel,” sê Gerhard. Volgens hom is daar ’n eenvoudige rede waarom die video sekerlik by aanhangers aanklank sal vind. “Mense love ’n goeie romantiese video.”
Met “Vra Net Vir Jou” lewer Gerhard Steyn nóg ’n opregte liefdesliedjie wat nie net sy eie verhaal vertel nie, maar ook ruimte laat vir luisteraars om hul eie herinneringe, drome en liefdesverhale daarin te herken.
Gerhard Steyn - Vra Net Vir Jou (Amptelike Musiekvideo)
Volg Gerhard Steyn YouTube : Kliek Hier Facebook : Kliek Hier TikTok : Kliek Hier Instagram : Kliek Hier




Comments