KOM ONS HELP: Staan Saam vir Xander van Niekerk (14)
- Yolandi Botes

- Mar 30
- 2 min read
Ons doen ’n dringende beroep op almal se harte en gebede vir Xander van Niekerk, ’n Graad 8-leerder van Hoërskool Fochville.

Wat ’n opwindende rugbytoer na Witrivier moes wees, het Saterdag in ’n nagmerrie ontaard toe Xander ’n ernstige rugbesering opgedoen het.
Hy het ’n rugmurgfraktuur op sy T12-werwel en sy L1 is uitgehak. Hy is tans in die Rob Ferreira-hospitaal en ondergaan aanstaande Woensdag, 1 April 2026, ’n kritieke operasie om sy ruggraat met ’n plaat en ses skroewe te stabiliseer.

Hoekom ons hulp nodig is:
Xander is tans ver van die huis af en kan nie geskuif word nie. Sy ouers is in Witrivier om by hom te wees, maar die onkostes vir verblyf, brandstof en lewenskoste is besig om op te hoop. Xander sal ook later per privaat ambulans terug Fochville toe vervoer moet word, gevolg deur maande se fisioterapie en opvolgbesoeke.
Hoe kan jy bydra?
Hoërskool Fochville het hul harte oopgemaak om te help. Ons vra dat skenkings asseblief DIREK in die skool se rekening inbetaal word met die verwysing "Xander". Op hierdie manier word 100% van die geld onmiddellik aan die ouers oorbetaal sonder dat fooie afgetrek word.
Vir diegene wat van oorsee af wil bydra of die Backabuddy-platform verkies, is die skakel hier beskikbaar (let wel dat uitbetalings langer neem en fooie afgetrek word):
👉 Backabuddy Skakel: https://www.backabuddy.co.za/campaign/xander
'n Gebed van Geloof
Ons is ongelooflik dankbaar dat Xander kan beweeg, dit is ’n wonderwerk op sy eie! Ons glo en vertrou op ons Almagtige God vir ’n volkome herstel.

As jy nie finansieel kan help nie, asseblief deel (share) hierdie plasing en hou Xander en sy gesin in jou gebede. Elke bietjie help om hierdie dapper 14-jarige weer op sy voete te kry.




Comments