Op My Seepkissie: In my 'work from home' era
- Johané

- Aug 11
- 4 min read
Soos ek hier sit en na buite staar, wonder ek waaroor om te skryf. My gedagtes is skielik dolleeg en ek kan nie aan een enkele tema of onderwerp dink om neer te pen nie. Dalk is dit die sleep deprivation. Dalk is dit omdat dit, na ‘n uitmergelende week, uit-blêrrie-eindelik naweek is. Of dalk is dit omdat ek sit en dink aan my volgende koppie koffie…’n warm een, verkieslik.

Hierdie ‘work from home’ is ‘n snaakse situasie. Jy is by die huis, maar ervaar steeds die stres van ‘n kantoor en die werkslading voel byna meer, want jy moet perform. Dit is ‘n voorreg en daar is voordele, maar soms kom loer eensaamheid by die voordeur in en voor jy jou kan kry, sit hy op jou kop en jy bevind jouself in ‘n bejammerende toestand, jou gemoed is kas toe en jy trek elke liewe opmerking van ‘n kollega soos ‘n lekker stywe baadjie aan.
As daar iets is wat COVID-19 ons kom leer het, is dat báie werke en maatskappye wel van die huis af kan funksioneer - wat natuurlik ‘n hele nuwe digitale era en geleenthede geskep het. Skielik kan ‘n Suid-Afrikaner vir ‘n Australiese maatskappy werk en andersom. Groot maatskappye het besef hoe baie hul werklik op die huur van ‘n kantoor spandeer het en (glo en vertrou ek) nou daardie fondse gebruik vir hul werknemers. Ons leef in die twintigste eeu, so tegnologie het báie dinge báie gerieflik gemaak - van Mr Delivery tot Takealot bestellings; letterlik enigiets kan nou aanlyn gekoop en/of gedoen word. Dit is eintlik scary hoe gerieflik dit werklik is.

Nietemin, terug by die onderwerp. Wanneer vriende of familie hoor jy werk van die huis af, dink hulle dadelik “must be nice”. Dit is nie net maanskyn en rose nie, tannie Maryna. Dit is ‘n voorreg, ja, maar nie altyd lekker nie. Want jy sien, liewe leser, jy kom op ‘n punt waar jy nie meer jou werk en huis van mekaar kan skei nie. Ja, jy begin dalk in ‘n ingerigte kamer wat as jou kantoor dien, maar voor jy jou kan kry, staan die skootrekenaar op die eetkamertafel en jy kyk 19h00 steeds of daar dalk ‘n e-pos is waarop jy kan reageer - jy sluit nooit werklik af nie.
Ek het in só ‘n posisie gewerk, maar het baie vinnig agtergekom dat dáárdie kite nie vlieg nie…maar die spreekwoord lui nie verniet “never say never”. Want hier is ek nou. Drie jaar later en ek werk weer van die huis af, maar hierdie keer is die omstandighede baie anders; ek het darem meer as die katte se geselskap. This time around is daar ‘n klein mensie na wie ek moet omsien so tussendeur die werk.

Dit is al ses maande sedert die klein lyf ons lewens kom verryk het - ek is bietjie in denial oor daardie feit alleenlik. Maar hierdie maand merk ook drie maande wat ek amptelik van die huis af werk. Drie van my kollegas is ook remote workers en laat ons jou ‘n ding vertel - dit verg dissipline, toewyding en motivering om jouself op jou stoel te gaan plak en werk, terwyl daar hordes dinge rondom jou is wat jou aandag trek…en soms verg ook. Maar hier is waar een van die voordele van remote werk in kom. Oor etenstyd het jy die geleentheid om gou ‘n bondel wasgoed in die masjien te gooi of skottelgoed te was, of selfs met aandete te begin.
Soos alles in die lewe is daar ook nadele. En die nadele kant van die skaal is soms swaarder as die voordele. Die eerste hiervan is die eensaamheid - die radio en troeteldiere kan regtig ook net soveel background noise en geselskap bied.
Tweedens kan jy begin voel soos ‘n kluisenaar. Jy is 24/7 by die huis en wanneer jy wel uitkom, is dit net om die blok stap of selfs op en af in die kompleks. En voor jy jou kan kry, wíl jy nie meer uitgaan nie. Die derde punt wat hiermee gepaard gaan, is die feit dat jy amper verleer om sosiaal te wees en gesprekke met ander mense te voer - dié een het ek met my vorige werk gevoel. Jy voel sommer ongemaklik om mense, ja selfs vriende, en weet nie lekker hoe om ‘n gesprek aan die gang te sit óf hou nie…en dan praat jy oor die een onderwerp waaroor almal praat wanneer hulle nie meer weet wat om te sê nie of daar is ‘n ongemaklike stilte - die weer.

Ek moet self nog ‘n work-life-balance vind in hierdie nuwe seisoen en hopelik sal dit ‘n goeie een wees. I’ve said it once and I’ll say it again, hierdie remote work is ‘n voorreg en as ek dood eerlik is met myself, ‘n hartsbegeerte wat ons Liewe Vader beantwoord het. So, ek kan nie, mag nie, kla met die wit brood onder die arm nie.
So, vir nou is ek besig om die midnight oil te brand met werk wat gedoen moet word omdat dit effe moeilik is om by dit uit te kom deur die dag, maar een ding is ‘n feit soos ‘n koei - ek graft met dankbaarheid.










Comments