Pretoria FM en ICASA kruis swaarde oor uitsaairegte
- Charlene Bekker
- 10 hours ago
- 2 min read
Pretoria FM se reg om na sy herleistasies in die Noorde van die land uit te saai, en verder uit te brei na die Noordkaap, Weskaap en die Vrystaat word weer deur die Onafhanklike Uitsaai Owerheid (ICASA) bedreig.

ICASA Daag Pretoria FM Ten Spyte van Regterlike Bevinding
ICASA het eerstens Pretoria FM by sy Nakomings- en Voldoeningskomitee aangekla omdat hy nie wil hê dat ons na ons herleistasies in Limpopo, Noordwes en Mpumalanga mag uitsaai nie – ondanks ’n vroeëre bevinding van Regter Thokozile Masipa wat bevestig het dat hierdie uitsendings wettig is.
Okosa weier verder ook om die Pretoria FM se Hooggeregshofsege van Desember 2024 te aanvaar wat beslis het dat Pretoria FM se aansoeke om na die Wes-Kaap, Noord-Kaap en Vrystaat uit te brei, deur ICASA oorweeg móét word.
ICASA se Ongelyke Behandeling van Aansoekers Onregmatig verklaar
ICASA het die aansoeke destyds gediskwalifiseer weens beweerde kort-betalings van aansoekfooie, maar vergunnings aan ander aansoekers in dieselfde proses verleen om gebreke in hulle aansoeke reg te stel. Regter Linda Retief het bevind dat die onderskeid wat ICASA in die verband getref het, onregmatig was en hulle besluit ter syde gestel.
Regter Retief het vroeër die jaar ook ICASA se aansoek om verlof tot appel teen haar beslissing van Desember verlede jaar met koste van die hand gewys.
Okosa het intussen aansoek om verlof tot appèl by die Appèlhof in Bloemfontein gedoen en Pretoria FM het gister sy opponerende stukke teen die aansoek by die Hoogste Hof van Appèl geliasseer.
Pretoria FM Kritiseer ICASA se Rol in Oorregulering van Uitsaaibedryf
Die uitvoerende voorsitter van Pretoria FM, Willie Spies het in sy reaksie genoem dat dit jammer is dat die uitsaaiowerheid, wat veronderstel is om onafhanklik te wees, so aktiewe speler geraak het in die oorregulering van die uitsaaibedryf.
“Ons moet tans op verskillende fronte teen die uitsaaiowerheid veg en dit noodsaak grootskaalse ondersteuning van ons luisteraars en adverteerders om die regskostes te dra van die gevegte wat gevoer word. Die uitsaaiowerheid behoort dit makliker te maak vir uitsaaiers om gehoor te word, maar die afgelope aantal jare word die indruk gewek dat nuwe regulasies en oordrewe streng toepassing van reëls gebruik word om eerder gemeenskapsuitsaaiers te beveg as om hulle te help om hul uitsaairegte uit te oefen en ‘n verskeidenheid van stemme op die luggolwe toe te laat. Pretoria FM is reeds vir 32 jaar ‘n getroue stem vir Afrikaans op die luggolwe. Ons het dit reggekry, ten spyte van die felste aanslae teen ons. Ons sal dit weer regkry en sterker anderkant uitkom,” het Spies bygevoeg.
Comments