Prop bring sy humor en hart na Bosboer Restaurant en Kroeg - 30 Oktober
- Amanda Bekker

- Oct 10
- 2 min read
’n Aand van musiek en stories in Parys
Donderdag, 30 Oktober 2025, gaan Bosboer Restaurant en Kroeg in Parys weer lekker lawaai maak. Prop, die man met die guitige glimlag en kitaar wat altyd iets snaaks te sê het, kom kuier saam met sy vertoning “My Sarie wil lê”. Dis nie net nog ’n gig nie, dis Prop se manier om mense te laat lag, luister en dink.
Kaartjies en besonderhede
Die show begin om 20:00, en kaartjies kos R90 per persoon. Dis soos altyd eenvoudig, stuur net ’n WhatsApp na 082-856-8819 om jou plek te bespreek. Geen fancy aanlyn kaartjiewebwerf of QR-kode drama nie. Net reguit Parys-styl: betaal, sit, eet, drink en lag.
Wie is Prop nou eintlik?
Vir diegene wat hom nog nie ken nie, Prop is nie sommer net ’n ou met ’n kitaar nie. Hy het al saam met Robbie Wessels getoer, in van Robbie se flieks verskyn en selfs vir Laurika Rauch liedjies geskryf. Ja, daai Laurika.
Hy’s nie net ’n musikant nie, maar ook ’n gekwalifiseerde argitek (want hoekom nie?), en ’n man met ’n storie. Prop is betrokke by Helpende Hand se LIG-konserte, waar hy inspirasie deel met mense wat deur moeilike tye gaan, iets wat hy self goed verstaan, aangesien hy al sy eie uitdagings moes trotseer weens skeletale gestremdheid.
Wat om te verwag
As jy nog nooit Prop live gesien het nie, dink aan ’n kombinasie van stories, musiek en daai tipiese “ons almal ken daai tipe ou”-humor. Hy gaan natuurlik ook sy gewilde liedjie “Kwaaitjie Maraaitjie” sing, en wie weet, dalk deel hy ’n paar argitek-grappies tussenin ook.
Bosboer het die afgelope paar maande ’n lekker gewoonte ontwikkel om mense met goeie musiek en nog beter geselskap bymekaar te bring. Hierdie aand met Prop gaan beslis in daai kategorie val. So, trek jou stewels aan, bring jou mense, en kom luister hoe Prop homself behoorlik inprop in die Bosboer-ervaring.










Comments