Raak kreatief in Potch saam met Christiaan Kruger
As jou kuns-skills tans iewers tussen ’n "stick figure" en ’n vae droom vasgehaak het, is daar goeie nuus vir die Potchefstroom-mense. Die bekende kunstenaar Christiaan Kruger bied op 11 April 2026 ’n eksklusiewe Meesterklas aan by Potchefstroom Gimnasium.
Christiaan is nie die tipe ou wat net agteroor sit en vir jou sê wat om te doen nie. Hy glo aan die "atelier" styl van leer. Dit beteken hy verf sommer saam met die klas sodat jy presies kan sien hoe hy die kleure meng en daardie moeilike skaduwees regkry. Hy fokus op verteenwoordigende kuns, so die doel is dat jou finale produk eintlik soos die regte ding lyk.
Teken kom eerste
Baie mense wil dadelik met die olie-verf begin mors, maar Christiaan glo die fondasie lê by jou tekenvermoë. Sonder goeie lynwerk gaan jou skildery sukkel, so hy gaan tekenlesse by die klas insluit waar dit nodig is. Die tema vir die dag is "Stillewe," so berei jouself voor om daardie koffiebeker of vrugtemandjie met nuwe oë te kyk.
Kies jou pakket (en jou budget)
Daar is drie maniere hoe jy die dag kan aanpak, afhangende van hoeveel "gear" jy reeds in jou kas het:
Opsie 1: Die Volle Ateljee Ervaring (R1 050) – Hier kry jy alles. Twee doeke, twee kwaste en die verf word voorsien. Jy daag basies net op.
Opsie 2: Die Begeleide Werkswinkel (R750) – Jy kry een doek, twee kwaste en ’n gedeelte van die verf is ingesluit.
Opsie 3: Die Onafhanklike Kunstenaar (R450) – Hierdie is vir die "pros" wat reeds hulle eie "kit" het. Bring jou eie verf, doeke en materiaal en geniet die klas teen ’n laer prys.
Die beste deel? Koffie, tee en ’n muffin is ingesluit om die kreatiewe sappe te laat vloei. As jy dalk in die middel van die klas besef jy het nog ’n ekstra doek nodig, sal daar gelukkig voorraad te koop wees.
Daar is slegs 15 plekke beskikbaar, so hierdie is nie die tyd vir "procrastination" nie. Die klas loop van 09:00 tot 14:00 in Klas 28 by die Gimmies.
As jy jou plek wil bespreek of meer inligting nodig het, kan jy vir Jeanne van Deventer kontak op
083-415-6918.






Comments