Santi Britz is 2025 se Inspirasievrou!
- Johané

- Nov 12
- 3 min read
Die werkwoord inspireer word gedefinieer as “om iemand op ‘n positiewe manier te beïnvloed.” As selfstandige naamwoord beteken inspirasie “dit wat begeester”, en wat ‘n treffende, gepaste woord is dit nie om Santi Britz, wat onlangs as Voelgoed Media se Inspirasievrou van die Jaar gekroon is, te beskryf nie.

'n Vrou wat inspireer - deur en deur
Santi, ‘n trotse inwoner van Potchefstroom, is op 8 November as Suid-Afrika se Inspirasievrou van 2025 bekroon tydens Voelgoed Media se Inspirasievrou Toekenningsoggend by Monte de Dios Boutique Hotel in Pretoria. Santi was een van tien finaliste en het op die ou end van die dag weggestap met die gesogte titel.
“Ek was regtig oorweldig, dit was vir my ‘n groot eer om genomineer te word”, het sy genoem tydens haar onderhoud met Voelgoed se program, Goeiemôre. Sy noem ook dat ‘n mens nooit dink jou lewensreis ‘n verskil in iemand anders se lewe gaan maak nie, maar talle persone het op sosiale media hul waardering en respek vir Santi uitgedruk - 'n duidelike aanduiding dat haar verhaal báie mense geraak het.

Omgee, bemagtig en bemoedig
Inspirasievrou fokus op vroue wat omgee, bemagtig en bemoedig. Dit is nie altyd die uiterlike waarna daar gekyk moet word nie, maar eerder na binne. “Ons lewe in ‘n wêreld van pretensie wat ontsettend [ingestel] is op die uiterlike…en ons moet begin onderskei. Kyk weg van die uiterlike en kyk na die hart. Dis die klein dingetjies wat maak dat ons ‘n verskil kan maak.”
Haar storie in 'n neutedop
Vir dié wie nie haar roerende storie ken nie, het sy dit in ‘n neutedop probeer vasvang. In 2009 is sy in haar huis verkrag deur ‘n rondloper man. Dit is ook tydens hierdie voorval waar haar man in die hospitaal was, so dit was ‘n vreeslike moeilike tyd in hul lewe. Sy noem dat verkragting ‘n kragtige instrument van mag is, juis omdat dit nie slegs die slagoffer beïnvloed nie, maar ‘n hele familie. Die misdadiger is later gevang en lewenslank gevonnis, maar die emosionele trauma sou vir Santi nog lank gevange hou.

Die oproep wat alles verander het
Haar roeping en lewensreis het op ‘n ironiese manier begin. Sy het ‘n oproep vanaf die universiteit ontvang wat haar in kennis gestel het dat daar ‘n verkragting slagoffer is en gevra of sy nie bereid sal wees om te kom help nie. Sy het dadelik teen dié idee geskop met haar eie ervaring nog, ongelukkig, vars in haar geheue. Die Kolonel wat met haar gepraat het, het haar finaal oortuig toe dié vir haar sê “Santi, dit is chaos hier en jý weet hoe sy voel.” Sestien jaar sedert daardie oproep, help sy steeds slagoffers van geweld dwarsoor die land.
iDUC se stigting
Santi is die stigter van iDUC, Initiative for Dedicated Upliftment and Care, 'n nie-winsgewende organisasie in Potchefstroom wat ondersteuning bied aan slagoffers van verkragting en mishandeling. Sy het iDUC gestig om bewusmaking te bevorder en slagoffers te ondersteun. Hulle bied berading, hulpbronne en opvoedkundige programme aan om geweld teen vroue en kinders te bekamp.

Sommige verwys na haar as die go-to persoon in Potchefstroom wanneer dit kom by geslagsgeweld. Met haar sagmoedige hart kan slagoffers makliker oopmaak teenoor Santi en werklik veilig voel. Die hele span by iDUC se doel is om slagoffers te bekragtig en bemoedig terwyl hul hul menswaardigheid terugkry en werklik leer om in oorwinning te leef.
Raak ontslae van die etiket
Die inisiatief stop nie slegs by vroue nie. Ongelukkig word daar ‘n bordjie van jongs af om sommige mans se nekke gehang wat hul as geweldadig of ‘n mishandelaar klassifiseer. Dit is waar Santi en die iDUC span intree. Hulle gaan besoek mans in die korporatiewe wêreld en selfs by die myne om met hulle te gesels oor wat húlle kan doen om van daardie etiket ontslae te raak.
'n Boodskap van hoop
Aan die einde van die dag wil Santi die volgende by elke slagoffer agterlaat: "Die persoon het nie jou toekoms gevat nie, daardie oomblik is verby en ons gaan ‘n pad met jou stap. Dit is ‘n moeilike pad, maar jy kan in oorwinning daaruit stap."
Weereens, baie geluk, Santi! Ons, as die Potchefstroom gemeenskap, is ongelooflik trots op jou - nie net oor die titel nie, maar oor alles wat jy al vermag het en oor dít wat jy nog gaan bereik. Jy is, sonder twyfel, ‘n inspirasievrou.
_______________________________
Johané van Dyk - Potchefstroom
Kyk gerus na hierdie episode van StroomStories waar ons met Santi oor haar verhaal en iDUC gesels het deur op die foto te kliek.










Comments