Van Plaaslewe tot Publikasie: Elsabé le Roux se skryfpen ken geen perke
- Johané

- 4 days ago
- 2 min read
Met ‘n passie vir lees en skryf wat van kindsbeen af kom, het Elsabé le Roux van Potchefstroom groot drome oor haar toekoms as aspirante skrywer.

Oorspronklik in Johannesburg gebore, het Elsabé en haar gesin na Potchefstroom verhuis toe sy agt jaar oud was. Dit is hier, op hulle plaas 30km buite die dorp, waar sy en haar sibbe tuis skool gegaan het en ook waar ‘n groot deel van Elsabé se inspirasie vandaan kom. Charlene le Roux, Elsabé se ma, het haar kinders die nodige vaardighede geleer en van handboeke voorsien toe hulle self kon leer. “Ek dink dit was die beste besluit, want ek het geleer om onafhanklik te wees”, het Elsabé tydens haar onderhoud genoem. Sy het ook hierdie ‘vryheid’ benut deur kennis op te doen oor skryf en sy het in ‘n passievolle boekwurm ontaard - beide storieboeke én opvoedkundige leesstof.
Sy onthou met ‘n glimlag hoe haar pa altyd vir hulle stories vertel het, dan het sy aandagtig gesit en luister, totaal in verwondering. En dít is waar haar liefde vir stories begin het. “Ek dink dit is dalk die gevoel wat stories skep; dat jy na verre lande weggevoer word, selfs al sit jy in die sitkamer.”

Haar ma, Charlene, dien ook as groot inspirasie; veral nadat sy haar eie digbundel, Skreeuende Hart, vrygestel het. Dit is ook háár woorde wat vir Elsabé motiveer om aan te hou met haar skryfwerk en haar herinner dat die wêreld haar oester is, “moet nooit ophou droom nie, hou daaraan vas - God sal dit ‘n werklikheid maak.”
Met bogenoemde boublokke as fondasie, het dit as geen verrassing gekom toe die skryfgogga vir Elsabé byt nie. Inspraak, ‘n aanlyn publikasie, het elke jaar ‘n kompetisie waar enigiemand ‘n kortverhaal of gedig kan indien. “Ek het dáárdie tyd reeds aan ‘n storie gewerk en gewonder hoe ek dit gepubliseer gaan kry, toe gryp ek die geleentheid met albei hande aan en stuur my storie in. Toe ek weer sien, kontak Inspraak my en laat weet my dat my storie, Lentekind, in Inspraak 3 bekend gestel gaan word!” Wat ‘n ongelooflike geleentheid vir ‘n aspirant skrywer. Twee van Elsabé se ander kortverhale (‘n Welkome les en Die katte se partytjie) verskyn in Inspraak 6, wat op 15 November gepubliseer is.

Elsabé is tans werksaam by The Bread Affair terwyl sy aan haar nuwe kortverhale werk. Tussen die spaar vir ‘n skootrekenaar en werk, is sy ook besig om te werk aan haar eie boek - ‘n aksieroman nogal! Sy vertel opgewonde dat sy aan haar sussie se storie ook gaan werk, dus moet lesers op die uitkyk wees vir publikasies onder die name Charlene le Roux en Elsabé le Roux.
Een ding is verseker - met haar pen, passie en aanhoudende publikasies gaan Elsabé le Roux ‘n huishoudelike naam word.
____________________________
Johané van Dyk - Potchefstroom









Comments