Dit is geen geheim dat daar ‘n gebrek aan behoeftes vir minderbevoorregtes onstaan in Suid-Afrika nie; armoede diskrimineer nie. In ons eie dorp en regoor die land is daar honderde, indien nie derduisende, haweloses en armes wat daagliks by verkeersligte of op straathoeke staan en ‘n geldjie vra sonder om ‘n woord te sê - die meeste staan met bakhande, neergeslaande oë en ‘n wanhopige, vernederde trek op hul gesigte. Dit laat my dink aan die fliek, Lien se Lankstaanskoene - die moed en absolute desperaatheid wat ‘n persoon moet hê om jouself so bloot te stel (aan die elemente en die samelewing) is iets byna ongelooflik, maar wat staan jou te doen wanneer dit die laaste uitweg is?

Never say never
“Ek sal nooit bakhand gaan staan en smeek vir geld nie”. Meneer, Mevrou - nooit is ‘n lang tyd en ook onmoontlik. Niemand van ons weet wat die dag van môre inhou nie; jou lewe kan binne ‘n oogwink onherroeplik verander…en dit is heel moontlik wat met elke liewe Lien of Leon Lankstaan by die verkeerslig gebeur het. Niemand droom daarvan of maak die besluit om eendag ‘n boemelaar te word of al jou geld, besittings, moed en familie te verloor nie - dit is iets wat net gebeur. En dan gaan doen hulle die enigste ding waaraan hulle kan dink om aan die lewe te bly, want die samelewing het totaal en al opgegee op hulle en niemand wil hul ‘n tweede kans bied nie. Wanneer het ons emosies en harte, as gemeenskap en gelowiges, so afgestomp geraak en verhard teenoor ons medemens?

Ons kyk veel eerder ander pad
Sodra ons ‘n verkeerslig nader en iemand met ‘n bord sien staan of op hul knieë, kop onderstebo sit, ruk ons amper ons skouer uit pootjie om die venster so gou as moontlik toe te draai en ou maat, die kar voor ons se nommerplaat was nog nooit so interessant nie of die karmatjies word intens bestudeer - enigiets om die pleitende oë te vermy. Indien ons wel oogkontak maak, jak ons hulle af deur self ons skouers op te trek terwyl ons deur die toe ruit probeer verduidelik “ek het niks nie, jammer”. Hoe ironies en wreed is dit nie. Ons sit in ‘n kar, heel moontlik met die lugversorger aan, ons beursies spog met bankkaarte en spaarrekeninge wat ‘n bedraggie in het en daar is inkopies in die kattebak; maar óns is dié wat niks het nie.
Preaching to the choir
Kyk, ek is besig om vir myself ook hier te preek. Ek is baie skuldig in hierdie opsig, want ek het dit ook al gedoen, doen dit steeds. En ek probeer regtig help waar en wanneer ek kan, maar soms het ek régtig niks en soms gaan dit maar broekskeur. Dit is juis in daardie tye wat die vyand kom en my probeer troos met “jy kan nie altyd almal help nie, want dan gaan jy self niks hê nie” en dan stoot ek maar die skuldgevoel eenkant toe, want dit is seker in ‘n mate waar? Dan kom die woorde van Matteus 25:35 - 37 by my op: ''For I was hungry and you gave me something to eat, I was thirsty and you gave me something to drink, I was a stranger and you invited me in, I needed clothes and you clothed me, I was sick and you looked after me, I was in prison and you came to visit me."

Hê lief. Sonder rede. Sonder voorbehoud.
Moenie my verkeerd verstaan nie, die Bybel is nie daar om jou te convict nie, maar wanneer jy die Here vra om jou ‘n hart soos Jesus te gee en wanneer jy bid ‘break my heart for what breaks Yours’, wees maar gewaarborg dat jy baie anders na mense en hul omstandighede gaan kyk en jou hart gáán vir hulle breek, want jy wíl help, jy wíl kos en water en klere gee. En dit is juis op daardie roering wat van Heilige Gees af kom waarop ons, as vissermanne en -vroue, moet reageer. Jesus het liefgehad sonder rede, sonder voorbehoud, oor wie Hy was en steeds is. En ons is geroep om soos Hy te leef - hoekom sukkel ons dan so om liefde te gee en genade te wys? Ek dink sommige mense redeneer “die lewe gaan oor keuses en dít is wat gebeur wanneer jy die verkeerde besluite maak”. Jesus sê nie analiseer die mense se verlede of oordeel hul keuses nie, Hy sê “hê lief”.

Hy is in die detail
Ander redeneer weer dat daardie geld net so vir dwelms en drank gaan of wanneer jy kos gee, word dit net so in die asblik gegooi. Maar die realiteit is dat ons nie weet nie. Ons weet nie waarvoor daardie geldjie of waarheen daardie broodjie werklik gaan nie. Ja, die geld kan heel moontlik gebruik word om ‘n verslawing te voed in plaas van hul mage of die brood kan net eenkant toe gegooi word, maar dit kan ook dalk net die draaipunt wees waarvoor hy of sy gewag het. Leon of Lien kon dalk daardie oggend vir die Here gesê, by Hom gepleit, dat wanneer iemand vandag vir hulle ‘n grondboontjiebotter toebroodjie of R7.80 gee, hulle sal weet dat Hy hulle raaksien en nie van hulle vergeet het nie - die detail is belangrik, want God is ‘n Vader van detail en Hy ken ons harte.
Reageer op die roering
Dis tyd dat ons uit ons gemaksones klim en ernstig raak. Wanneer Heilige Gees jou binneste roer, beweeg! Raak betrokke by 'n sop-kombuis, gaan bedien by Street Ministries, gaan bid saam met ander by die taxi rank, gaan was voete of vat ‘n oomblik en gaan gesels met Leon of Lien Lankstaan. Spreek in hul lewe in, bemoedig, hê lief, bid vir hulle en wees net teenwoordig - want hulle is steeds mens en soms is die geestelike en emosionele behoeftes groter as die fisiese.

Moenie huiwer nie
Dit help nie ons vra Abba om ons as ‘n vessel te gebruik en wanneer Heilige Gees vir ons iemand identifiseer met wie ons moet gesels of ‘n geldjie gee, is ons skielik bang of bekommerd oor wat die mense tog sal sê. Mag die woorde van Josua 1:9 ons tydens hierdie tye van twyfel kom bemoedig: “Have I not commanded you? Be strong and courageous. Do not be afraid; do not be discouraged, for the Lord your God will be with you wherever you go.”
Mag ons daagliks waagmoed hê om uit te tree in geloof en ‘n verskil te maak in iemand se lewe - veral in die lewens van ons minderbevoorregte boetas en sussas.