Abraham Kriel Kinderhuis maak hul huis en harte oop
- Johané
- Jun 2
- 3 min read
Wanneer ‘n mens aan Abraham Kriel Kinderhuis dink, is die woord ‘Opedag’ nie juis iets wat jy met hiérdie instansie sal assosieer nie. Maar op Vrydag, 30 Mei 2025, het hulle hul huis en harte vir die Potchefstroom gemeenskap oop gemaak om ‘n dieper kykie te bied. ‘n Opedag in die letterlike sin van die woord.

Hoekom juis 'n Opedag?
“Die doel van vandag is om die gemeenskap uit te nooi vir ‘n kykie agter die skerms. Om te sien hoe ons [as Abraham Kriel] werk en leef, en om die gaping tussen dít wat die kinderhuis werklik doen en dié van Liggiefees ‘n bietjie kleiner te maak”, het Caro Schoen, Maatskaplike Werker by Abraham Kriel, gesê. Alhoewel dit yskoud was, was die atmosfeer reeds van vroeg af warm. Vanaf nege uur was daar byna elke dertig minute ‘n nuwe groep wat gereed gestaan het by die kantoor om hul toer van die perseel te begin.

Die toer begin
Die toer het by Ontvangs begin waar Quré du Plooy oor een van die suksesvolste en volhoubaarste projekte gesels het: Borg-’n-Kind. Dit is ook tydens Liggiefees by hierdie bekende fotomuur waar bogenoemde projek die meeste ondersteuning kry, het Adjunkhoof, Annelien Yzelle, laat hoor. Sy het ook tydens die Opedag haar kantoor verruil vir vars lug en het as toerleier gedien, terwyl sy met deernis die storie van Abraham Kriel en sy inwoners vertel. Ná 33 jaar het die liefde wat sy vir hierdie kinderhuis en sy inwoners het slegs verdiep en kom dit na vore wanneer sy praat. Hoof van die kinderhuis, Christie Saayman, was ook baie betrokke tydens Vrydag se verrigtinge en het kort-kort uit die kantoor gekom om met besoekers te gesels.

Volgende aan die beurt
Van Ontvangs af, is die groep gelei na die Siekeboeg waar Annelien verduidelik hoe hulle te werk gaan wanneer die kinders siek word en hoe daar kontrole gehou word oor vitamienes en medikasie. Die toer het besoekers na verskeie huise geneem waar hulle ‘n kykie in hierdie kinders se lewe en omstandighede kon kry. Netjiese badkamers en vrolike kamers met opgemaakte beddens weerspieël die trots en dissipline wat hierdie kinders het. Die huismoeders en skoonmakers van elke huis op die perseel is vriendelik en speel ‘n belangrike rol. Die klerebank en kombuis is ook tydens die toer besoek en die kontrole sisteme wat dié instansie in plek het, is baie kompleks én baie indrukwekkend.

'n Lekker stalletjie of twee...of drie
Wat is ‘n Opedag nou sonder ‘n fotohoekie en so paar stalletjies? Toro se heerlike warm drankies het gehelp om die koue te verdryf terwyl Oh My Fudge iets vir die soettande gebied het. Liggiefees se gunstelinge was ook te koop - kerrie en rys en pannekoek.


'n Laaste dankie
Of jy uit persoonlike hoedanigheid die dag bygewoon het of as verteenwoordiger van jou maatskappy, elke paar voete wat deur die hekke gekom het, het nie onaangeraak daar weg gery nie. En dít was die oorhoofse doel van die dag. ‘n Laaste woord van dank gaan aan elke liewe personeellid en vrywilliger wat hierdie dag moontlik gemaak het. Dankie dat julle ‘n hand verleen het om die Potchefstroom gemeenskap ‘n dieper verstaan te gee en die besef dat Abraham Kriel Kinderhuis soveel meer en groter is as net Liggiefees. Ons sien uit na nóg hoër hoogtes wat julle gaan bereik.
Johané van Dyk - Potchefstroom
________________________________
Raak betrokke
Besoek gerus Abraham Kriel Kinderhuis se webblad om die verskillende projekte te sien waar jy betrokke kan raak. Terwyl jy op die blad is, koop sommer kaartjies vir die Winter Wonderland vertonings wat om die draai is.
So paar foto's van die dag










Comentarios