Die Potch Geesfees-program is amptelik hier
- Amanda Bekker

- 2 hours ago
- 2 min read
Die winterkoue gaan binnekort sy herrie kry, want die Potch Geesfees is terug vir 2026. Op 28 en 29 Augustus gaan dinge behoorlik skud by die Lekwena Privaat Wildreservaat. Hierdie jaar se tema is "Ploeg Terug", en die program is propvol gepak met goeie musiek, lekker kos en rugby.

Vrydag se planne met Ichnus as MC
Die pret skop op Vrydag, 28 Augustus, amptelik af. Die hekke maak reeds om 12:00 oop, so mense kan vroegtydig hul sitplekke gaan soek. Die bekende Ichuus gaan die program as MC hanteer en seker maak die grappe vloei regdeur die dag.
Om 14:00 kry plaaslike talent 'n beurt op die verhoog om te wys wat hulle kan doen. Janine begin die professionele musieksessies om 16:15, waarna Ruan Josh en Franja om 17:00 oorneem. Teen die tyd dat die son begin sak, sing John Rock Prophet om 18:30. Eloff klim om 19:30 op die verhoog, en die gewilde Riaan Benade sluit die eerste aand om 20:30 af.
Saterdag is dit rugby en groot name
Saterdag, 29 Augustus, begin dinge nog vroeër en die hekke open al om 08:00. Die oggend begin rustig met die ATKV Sangkompetisie om 11:30, gevolg deur 'n optrede deur Naledi om 13:00. Die wenner van die sangkompetisie word kort daarna om 13:50 aangekondig.
Daarna volg 'n rits bekende kunstenaars:
Neil Somers om 14:10
Liezl Pieters om 15:10
Tanya V om 16:10
Om 17:00 stop die musiek vir 'n rukkie, want die Springbokke speel op die grootskerm. Dit gaan die ideale geleentheid wees om saam met 'n koue drankie vir die Bokke te skree. Na die wedstryd gaan die partytjie rustig voort met Appel om 19:15 en Armand Steenkamp om 20:30.
Kos, kinders en landbou
Behalwe vir die musiek, is daar baie kosstalletjies en ander uitstallers om deur te stap. Vir die ouers wat bietjie wil asemhaal, is daar baie vermaak en gesinsaktiwiteite beskikbaar om die kinders besig te hou.
Daar is ook 'n spesiale Agri-program wat binnekort bekend gemaak gaan word. Hierdie gedeelte beloof om inspirerende sprekers, interessante landbou-onderwerpe en spesifieke landbou-uitstallings na die fees te bring.
Wat kos die pret?
Kaartjies is reeds beskikbaar op die Tixsa-platform of kan direk by die hekke gekoop word. Die pryse is baie billik gehou sodat die hele gesin kan saamkom:
Volwassenes: R100 vir Vrydag, R150 vir Saterdag, of R210 vir 'n volledige naweek-pakket.
Kinders (6 tot 18 jaar): R50 vir Vrydag, R80 vir Saterdag, of R100 vir die hele naweek.
Met die Lekwena Wildreservaat as agtergrond beloof dit 'n baie lekker naweek van saamkuier te wees.




Comments