Kom klop saam by vanjaar se Momentum Aardklop
- Johané

- Oct 9
- 2 min read
Dit is weer Oktober en oral in die dorp is pienk lappe om bome gebind. Dít kan net twee goed beteken: dit is borskanker bewusmakingsmaand en dit is Potchefstroom se grootste, gewildste fees op die jaarlikse kalender: Aardklop.

Sedert Aardklop na die NWU JOOL Plaas geskuif het, word besoekers aangeraai om hul stapskoene aan te trek, want jy gaan sonder twyfel jou treë inkry op dié gronde. Met ‘n groot verskeidenheid stalletjies in die nog groter tente, is daar beslis iets vir elke persoon. Of jy nou net deur die stalletjies loop en jou verkyk aan al die mooi (en lekkernye), en of jy ‘n spesifieke produk in gedagte het en doelgerig daarheen stap, van een ding kan jy seker wees - hiér sal jy beslis kry waarna jy soek.

'n Nuutjie by Aardklop - en 'n fantastiese een bygesê
Die bekende en geliefde Dromersmark het ‘n wonderlike geleentheid gesien en een hele, groot tent is ‘n Dromersmark ‘pop-up’ met al die stalletjies wat eie is aan dié mark. Rijk Geel doen ‘live portraits’, daar is die mooiste gedroogde blomme waarmee jy jou eie ruiker kan maak en dan praat ons nie eers van die geure en reuke wat jou in dié tent groet nie. En dit is slegs één tent - daar is nog seker vier ander!

Wat jy moet weet
Nou kom ons by die ‘nitty gritty’. Die aanwysings na die feesterrein is voldoende en die parkering is goed uiteengelê, met karwagte wat regoor die perseel sigbaar is. Die ingangsfooi van R100 per persoon stel die standaard van pryse wat besoekers binne kan verwag. Ongelukkig het alles duurder geword met die huidige ekonomiese toestand van die land (en wêreld), so kom maar met ‘n vol beursie, want die produkte gaan jou ‘n paar Mandelas uit die sak jaag.

Ondanks die stewige ingangsfooi en pryse van die entrepreneurs, sien Aardklop daagliks duisende voete - wat fantasties is om te sien (en beleef). Oud en jonk kom gerat met hulle Jolly Trolleys, inkopiesakke, hoë verwagtinge en kinderlike opgewondenheid.
Bly op hoogte
Buiten die feesterrein se hordes stalletjies en kunstenaars wat die skare vermaak, is daar natuurlik die toneelstukke. Ongelooflike, plaaslike talent wat die planke betree en gehore alle emosies laat voel. Hiermee die eenrigting WhatsApp groepe se skakels vir elke dag se vertonings, tye en venues:

Troos jouself aan die feit dat Aardklop slegs een keer per jaar is en dat jy maar jou YOLO kaartjie mag swiep. Kry jou ry na die Aardklop Feesterrein, koop ‘n kaartjie en soos Eden sing, “kom klop weer.”
______________________________
Johané van Dyk - Potchefstroom
So 'n paar lusmakertjies





















Comments