ONS keer terug na hul wortels met geel-getinte nuwe enkelsnit
- Charlene Bekker

- 3 hours ago
- 2 min read
12 Junie 2026
Ná die blou van “Naam” en die oranje van “Sou Jy?”, is die gewilde duo ONS terug met ’n splinternuwe enkelsnit wat deur ’n nuwe kleur gekenmerk word. “Vêr Van Die Huis Af”, wat vanaf vandag beskikbaar is, bring die kleur geel na die voorgrond , ’n simboliese voorstelling van die liedjie se ligter, meer optimistiese klank.

FotoKrediet: Hendri Fourie
Vir ONS, bestaande uit Ruvé Erasmus en Marco van Deventer, verteenwoordig geel veel meer as net ’n kleur.
“Geel is vir ons ’n gelukkige kleur. Ná ‘Sou Jy?’ wat ’n donkerder, hartseer liedjie was, wou ons teruggaan na ons wortels. Die liedjie is ’n gelukkige liedjie en baie naby aan ons liedjie ‘Lag’ se klank.
Ons het gevoel dat geel die kleur van geluk, hoop en vreugde is,” vertel Marco, wat die liedjie geskryf het. Die nuwe enkelsnit vang die gevoel van sorgelose aande vas , daardie oomblikke wanneer die wêreld buite jou huis baie meer aanloklik voel as die werklikheid wat vir jou wag wanneer jy terugkeer.
“‘Vêr Van Die Huis Af’ vertel die storie van waar jy ’n aand gehad het wat jy net heeltyd wil in bly en nie terug wil gaan huis toe nie. By die huis is daar goed wat jy wil vergeet,” verduidelik Marco.
Die kleurtema word ook sterk deurgetrek in die musiekvideo, wat op ’n kreatiewe wyse aansluit by die duo se debuutalbum se visuele identiteit. Die video bevat verskeie geel elemente, waaronder ’n fotografiedoek, twee stoele en ’n kitaar, terwyl ’n spieël gebruik word om speelse diepte en perspektief te skep.
Die musiekvideo is in ’n veld in Pretoria verfilm deur Eric T Graham en Tehan Buys en roep herinneringe op aan die beeld van die duo agter ’n fotografiedoek op hul debuutalbum se omslag. “Ek dink nie dit was aspris van ons kant af nie; dit was half goeie beplanning van ons span af.
Toevallig sluit dit baie mooi aan by waar ons wil uitkom , by ons oorspronklike klank en gevoel,” sê Ruvé. Met “Vêr Van Die Huis Af” keer ONS dus nie net terug na die klank wat aanhangers op hulle laat verlief raak het nie, maar ook na die speelse energie, hoop en vreugde wat die duo se musiek van die begin af gekenmerk het.
ONS - Vêr Van Die Huis Af (Amptelike Musiekvideos)
Volg ONS op Sosiale Media
YouTube : Kliek Hier
TikTok : Kliek Hier
Facebook : Kliek Hier
Instagram : Kliek Hier




Comments