Potch Geesfees 2025: Ploeg terug in ons gemeenskap
- Johané

- Jul 8
- 3 min read
Die Potch Geesfees het in 2022 die lig gesien – nie net as ’n musiekfees nie, maar as ’n fees met ’n missie en ’n hart vir die Potchefstroom-gemeenskap.

Hoe dit alles begin het
Reeds in sy eerste jaar het die vermaakreus, Virseker, hande gevat met Solidariteit Helpende Hand om ’n unieke fees daar te stel wat pret kombineer met ’n liefdadigheidsoogmerk. Die eerste saak waarop gefokus is, was Helpende Hand se nasionale #StopHonger-projek, wat daartoe strek om kleuters landwyd van ’n daaglikse maaltyd te voorsien. Duísende kinders gaan steeds elke aand honger slaap, maar danksy hierdie projek en die ondersteuning van die Geesfees, kry meer as 8 000 kleuters elke dag kos.
Die eerste fees, destyds bekend as die Virseker Geesfees, is in Maart 2022 gehou. Ná ’n uitstekende ontvangs het dit vinnig ’n jaarlikse instelling geword. In 2023 is dit weer by Lekwena Wildreservaat net buite Potchefstroom aangebied en die gemeenskap se ondersteuning het verseker dat die #StopHonger-inisiatief nóg groter impak kon hê. Feesgangers het geweet: elke kaartjie wat hulle koop, dra by tot kos op ’n kind se bord.
Vermaak met ’n hart: Hoogtepunte van die verlede
Benewens sy doelgerigte impak, is die Geesfees ook uit en uit 'n kuier- en musiekfees. Suid-Afrika se top Afrikaanse kunstenaars het al op die Geesfees-verhoog opgetree. Die driedaagse fees in 2023 het skares vermaak met groot name soos Bernice West, Appel, Ricus Nel, Reën, Brendan Peyper en Juan Boucher. Selfs sterre soos Demi-Lee Moore het voorheen op dié verhoog verskyn. Die genres wissel van rock en pop tot country en alles tussen-in.
Daarbenewens is dit ’n gesinsvriendelike ervaring met kosstalletjies, markte, aktiwiteite vir jonk en oud, en selfs groot skerms om rugby en ander sport regstreeks te kyk. Die atmosfeer is warm en propvol gees.
In 2024 het die fees gefokus op die tema “Verfraai ons Dorp” en is dit vir die eerste keer in Augustus gehou. Hierdie keer het die organisasie besluit om Potchefstroom self op te hef – deur projekte wat infrastruktuur verbeter en die dorp mooier maak. R120 000 is aan die Potchefstroom Sakekamer geskenk, wat gebruik is vir herstelwerk, skoonmaakaksies en gemeenskapsverbetering. As erkenning is die Geesfees aangewys as die #ProPotch Ondersteuner van die Jaar.

2025: Die jaar om terug te ploeg
Met die tema “Ploeg Terug” keer die Potch Geesfees op 29 en 30 Augustus 2025 terug na Lekwena Privaat Wildreservaat. Hierdie vierde feesjaar versterk weer sy verbintenis tot Potchefstroom. Elke kaartjie wat gekoop word en elke happie wat by ’n stalletjie geniet word, help om plaaslike projekte te befonds – of dit nou skole, welsynsorganisasies of gemeenskapsinisiatiewe is.
Twee dae van topklas vermaak wag op besoekers. Van oggend tot aand, met musiek, heerlike kos, handgemaakte produkte, kuns en pret vir kinders. Die fees bied ’n veilige, gesellige omgewing waar die hele gesin welkom is. Die organiseerders beskryf dit as ’n naweek gevul met die ware gemeenskapsgees waarvoor Potchefstroom bekend is.
Sterre op die verhoog
’n Fees is nie volledig sonder ’n indrukwekkende lys kunstenaars nie en Potch Geesfees 2025 gaan beslis nie teleur stel nie! Afrikaanse superster, Juanita du Plessis is bevestig as hoofkunstenaar; haar teenwoordigheid alleen gaan die skare laat dans en saamsing. Saam met haar klim Ruhan du Toit, lid van Touch of Class, weer op die verhoog na ’n suksesvolle vertoning in 2024.
Nog ’n hoogtepunt is Stephan Fourie, die wenner van die 2024 Virseker Sangkompetisie, wat vanjaar as volwaardige kunstenaar sy talent gaan wys. Dit is ’n ware suksesverhaal van hoe die Geesfees nuwe talent help groei.
Maar dit is nie al nie – nóg kunstenaars en groepe sal nader aan die tyd aangekondig word. In die verlede het name soos Robbie Wessels, Eloff en Brendan Peyper die skare op hul voete gehad, so verwag soortgelyke gehalte en verrassingselemente hierdie jaar. Hou die Geesfees se Facebook en Instagram dop vir verdere aankondigings rakende die kunstenaars.
En vir die nodige humor en orde op die verhoog, is plaaslike gunsteling Ichnus Wait aangekondig as seremoniemeester vir 2025. Bekend vir sy energie en lag-uitlokkers, is hy die ideale persoon vir die naweek se verrigtinge.
Kom kuier, kom ploeg terug!
Potch Geesfees 2025 beloof om weer een van die grootste hoogtepunte op Potchefstroom se kalender te wees. Dié fees bring mense bymekaar vir goeie musiek, heerlike kos en die opbou van ’n beter gemeenskap. Onder die tema “Ploeg Terug” word elke dans, elke glimlag en elke oomblik van feesviering omskep in iets positiefs vir Potchefstroom.
Trek jou vellies aan, bring daardie gees en wees deel van ’n naweek waar feesviering en teruggee hand aan hand gaan. By die Geesfees kuier ons vir ’n doel en jy is welkom om saam te vier! Sien jou daar!
Kry jou kaartjies hier









Comments