Potchefstroom Animal Welfare Society roep uit: Kom kyk na dié oulike gesiggies
- Amanda Bekker
- Jun 2
- 2 min read
Toekie – ’n klein oubaas met baie liefde oor
Toekie is ’n manlike Jack Russell van so plus-minus nege jaar oud. Hoewel hy al ‘n bietjie langer in die tand is, glo PAWS (Potchefstroom Animal Welfare Society) vas dat Toekie steeds jonk van gees is. Hierdie ou kerel was ’n straatdier, maar nou soek hy net ’n huis waar hy kan lê en son kolletjies vang. Sy hartewens? ’n warm kombers, ’n vol bak kos en iemand om sy klein lyfie mee te deel.
Kontak PAWS by 071-681-9264 om vir Toekie te kom ontmoet en dalk huis toe te neem!

Sadie – Sagte ogies en groot liefde
Dan is daar Sadie, ’n jong pittie kruising van so twee jaar oud. Sy het haar pad gevind na die nooddienste-hokkies toe sy heel alleen daar gevind is. Sy het nog nie ’n huis gekry nie, maar PAWS glo iemand gaan haar hart steel. Sadie sit daar en wag vir haar mense, sy vra nie veel nie, net ’n plek om te rus en iemand om haar kop teen te druk.
Bel PAWS by 071-681-9264 as Sadie dalk jou nuwe maatjie is.

Lucy & Lilly – Dubbele liefde
Lucy en Lilly is ’n span Bullterrier-kruis meisies van so drie jaar oud. Hulle is as straathonde gevind en altwee het mikroskyfies, maar niemand het ooit vir hulle kom haal nie. Dis hartseer, maar PAWS sê hulle glo daar’s iemand wat vir hulle altwee plek in hul huis en hart het. Dié twee wag nog altyd saam en dis hoe hulle dit verkies. Twee keer die liefde, twee keer die pret!
Skakel 071-681-9264 om vir Lucy en Lilly te ontmoet, jy sal nie spyt wees nie!

Bella – ’n nuwe begin vir ’n nuwe naam
Laastens, ontmoet Bella, sy’s ’n Bullterrier van so twee jaar oud en haar nuwe naam pas haar perfek. Bella beteken mooi, en dis presies hoe sy is: vol energie en gereed vir haar forever home. Haar persoonlikheid het sommer die mense by PAWS se harte gewen. Nou kort sy net ’n huisie om in te blom.
Kontak PAWS by 071-681-9264 om vir Bella huis toe te neem!

’n Huis vir elke poot
PAWS se grootste wens is om vir al hierdie honde (en hulle maats wat dalk nie hier genoem is nie) huise te kry waar hulle kan leer hoe dit voel om deel te wees van ’n familie. Son kolletjies, bankslapies en tonne liefde, dis mos maar wat elke hond verdien.
As jy wil kom kyk of een van hierdie gesiggies dalk joune kan wees, loer gerus in by PAWS by 2 Viljoenstraat, MiederPark. Hulle is altyd reg om jou te verwelkom en jou voor te stel aan jou moontlike nuwe beste vriend.
Comentários