Riaan Benadé bring hulde aan die liefde met nuwe enkelsnit, ‘Lof’
- Charlene Bekker
- 11 minutes ago
- 2 min read
Die gewilde sanger en liedjieskrywer Riaan Benadé is terug met sy splinternuwe enkelsnit, “Lof” – ’n opregte liefdesliedjie wat die fokus plaas op die krag van waardering en die mooi woorde wat ons oor die mense naaste aan ons spreek.

Foto Krediet : Hendri Fourie
Dié uitreiking volg op sy vorige enkelsnit, “Kattebak”, wat vroeër vanjaar verskyn het en weereens Riaan se vermoë beklemtoon het om met eerlike lirieke en herkenbare temas aanklank by luisteraars te vind.
Volgens Riaan het “Lof” op ’n verrassende manier ontstaan. “Ek het eintlik die liedjie begin skryf om my vrou te oortuig dat ek ook liedjies oor háár skryf,” vertel hy laggend. “Maar soos die liedjie ontwikkel het, het ek besef jy kan soveel probeer sê vir jou vrou oor hoe lief jy haar het en hoeveel sy vir jou beteken. Op die ou einde gaan dit daaroor dat jy haar lof besing.”
Vir hom is daar nie ’n beter manier om sy gevoelens vas te vang nie. “Ek bring haar met nog; daar is nie regtig iets wat dit beter verduidelik nie.” Hy glo die boodskap van die liedjie sal veral by getroude paartjies aanklank vind. “Meeste mans kan hiermee vereenselwig,” sê hy. “Vrouens én mans gaan herinner word dat die mooiste dinge wat jy oor jou lewensmaat sê, dikwels gebeur wanneer hulle nie daar is om dit te hoor nie. En dalk is dit eintlik mooier so.”
Die inspirasie agter “Lof” is sy vrou, Melissa, wat die hart van dié liedjie vorm. Deur eerlike lirieke en ’n warm melodie vier Riaan nie net romantiese liefde nie, maar ook die waarde daarvan om iemand met opregte bewondering en respek te behandel – selfs wanneer hulle nie teenwoordig is nie.
Die musiekvideo weerspieël dieselfde eenvoudige, egte benadering as die liedjie self. Riaan het doelbewus besluit om weg te bly van groot produksies en spesiale effekte. “Dis net ek en my band in die musiekvideo wat die boodskap oordra. Ons almal is getroude mans en ek dink ons almal stem saam met hierdie idee van die liedjie.”
Met “Lof” lewer Riaan Benadé nóg ’n liedjie wat luisteraars aanmoedig om stil te staan by die mense wat hulle liefhet en hulle waardering nie net te voel nie, maar ook uit te spreek. Die liedjie se eerlike boodskap, gekombineer met Riaan se kenmerkende stem en storievertelling, maak dit ’n enkelsnit waarmee baie Suid-Afrikaners sal kan identifiseer.
Riaan Benadé - Lof
Volg Riaan Benadé Facebook : Kliek Hier Instagram : Kliek Hier TikTok : Kliek Hier YouTube : Kliek Hier
