Van ongelukke tot onluste - Potchefstroom loop deur
- Johané
- 1 day ago
- 2 min read
Dit is nog vroeg in die maand, maar reeds was daar oproerings in en om die dorp. Almal weet dat ongelukke enige tyd kan gebeur en niemand kan onluste voorspel nie, maar die afgelope tyd is daar 'n toename in beide, veral in Potchefstroom.

Die N12 begin al hoe meer onvoorspelbaar raak met toenemende ongelukke in beide Johannesburg en Klerksdorp se rigtings. Twee weke gelede was daar 'n ongeluk op die Potchefstroom/Klerksdorp pad waar 'n voertuig vanaf Klerksdorp na Potchefstroom gereis het, maar op een of ander manier op sy dak aan die ander kant van die N12 (Potchefstroom na Klerksdorp rigting) beland het.

Net gister (10 Junie 2025) het Leandro de Beer, van Potchefstroom First Responders, 'n plasing op die Facebook groep gemaak van 'n ongeluk 20 kilometer buite Potchefstroom in Johannesburg se rigting waar 'n bakkie betrokke was. Op 7 Junie was daar 'n ongeluk op die hoek van Govan Mbeki en Retief Straat en slegs 'n dag later was daar twee ongelukke op Paryslaan en die N12 onderskeidelik. Hierdie ongelukke is heel moontlik as gevolg van roekeloos bestuur of afleidings soos selfone.


Wat is 'n maand in ons land nou sonder 'n protes of twee? Op 6 Junie was daar 'n protes by Vuselela TVET College in Auret Straat en gisteraand (10 Junie 2025) was daar versperrings op die pad tussen Potchefstroom en Ikageng. Gelukkig was daar geen beserings en verkeer was nie geaffekteer nie.

Ons, as die Potchefstroom gemeenskap, is dankbaar vir die Potchefstroom First Responders wat die meerderheid van die tyd eerste op 'n toneel is. Dankie aan elke ander rolspeler in ons gemeenskap, van sekuriteit tot insleep dienste. 'n Spesiale dank gaan ook aan Leandro de Beer en die administratiewe span van die Potchefstroom First Responders Facebook groep wat die gemeenskap so getrou op hoogte hou van dít wat in ons dorp aangaan.
Johané van Dyk - Potchefstroom
Comments