Winter Hotel open sy deure met debuut-enkelsnit ‘Heuning’
- Charlene Bekker

- 3 days ago
- 4 min read
Ná die ongekende sukses van “Toelaat”, slaan Bernice West en Droomsindroom ’n splinternuwe kreatiewe rigting in met die bekendstelling van Winter Hotel – ’n musiekprojek wat veel meer as net ’n nuwe band wil wees.

Met hul debuut-enkelsnit, “Heuning”, nooi hulle luisteraars in ’n nostalgiese wêreld waar musiek, stories en beeld saamvloei tot ’n unieke ervaring.
Die idee vir Winter Hotel het ontstaan ná Bernice West en Droomsindroom se suksesvolle samewerking op “Toelaat”. Dié liedjie het alle verwagtinge oortref, vyf opeenvolgende weke die nommer-een-posisie beklee en binne dié tyd meer as een miljoen stromings behaal. Die oorweldigende reaksie van aanhangers het die kunstenaars laat besef dat daar iets besonders in hul samewerking skuil.
“Ons het ongelooflik baie boodskappe ontvang van mense wat gevra het vir nóg musiek saam,” vertel die groep. “Dit het ons laat besef daar is ruimte vir iets groter as net nog ’n samewerking. Ons wou ’n wêreld skep waarin mense hulself kan verloor.” Só is Winter Hotel gebore – nie as ’n verlengstuk van Bernice West of Droomsindroom se bestaande loopbane nie, maar as ’n volwaardige nuwe band met sy eie identiteit, klank en storie.
Volgens dié groep het die nuwe naam hulle die kreatiewe vryheid gegee om iets heeltemal oorspronklik te ontwikkel, terwyl Bernice West en Droomsindroom steeds hul eie solo- en groepsloopbane onafhanklik kan voortsit.
Winter Hotel onderskei hom deurdat elke aspek van die projek – van die musiek en lirieke tot die visuele styl, verhoogproduksie en storievertelling – deel vorm van dieselfde kreatiewe wêreld.
“Ons wou nie net ’n nuwe klank skep nie; ons wou ’n ervaring bou waarna mense telkens wil terugkeer. Elke vrystelling voel soos nog ’n hoofstuk van dieselfde verhaal.”
Die eerste enkelsnit, “Heuning”, fokus nie bloot op die woorde “ek is lief vir jou” nie, maar op die gevoel van verlief raak en die verwondering wat liefde weer in ’n mens wakker maak. Die lirieke gebruik metafore en natuurbeelde om emosies op ’n subtiele manier oor te dra.
Die beeld van heuning in ’n Sondagoggend-koppie tee simboliseer daardie ekstra bietjie soetheid wat iemand in jou lewe bring – iemand wat gewone oomblikke buitengewoon maak. Die liedjie ondersoek temas soos kwesbaarheid, vertroue en emosionele veiligheid en herinner luisteraars dat ware liefde nie daaroor gaan om iemand reg te maak nie, maar om veilig genoeg te voel om jou hart oop te maak.
“Ons hoop mense hoor nie net die liedjie nie, maar dat hulle hulself daarin verloor. As ‘Heuning’ iemand vir drie minute daardie sagte, warm gevoel van verlief wees kan laat ervaar, dan het die liedjie sy doel bereik.” “Heuning” is slegs die eerste hoofstuk van Winter Hotel se verhaal. Oor die volgende paar maande sal nóg musiek verskyn wat uiteindelik uitloop op die volledige kortspeler “Winter”.
Hoewel elke liedjie op sy eie kan staan, vorm almal deel van ’n groter narratief waarin temas, emosies en stories deurgaans verweef is. “Ons wil hê mense moet die projek as ’n volledige luisterervaring beleef eerder as net ’n versameling los enkelsnitte.”
Die titel van die EP, “Winter”, is doelbewus gekies. Die projek is gedurende die winter gebore en die seisoen speel ’n belangrike rol in die atmosfeer en identiteit van die musiek. Die kreatiewe proses begin hoofsaaklik by Kirsten Richard Schlebusch, wat as hoofliedjieskrywer optree.
Die idees word daarna saam met Bernice West en Kyle Joshua Schlebusch verder ontwikkel totdat elke liedjie emosioneel en liries presies reg voel. Die finale produksie is in die hande van die bekroonde vervaardiger Peach van Pletzen, wie se moderne produksiebenadering gehelp het om Winter Hotel se unieke soniese identiteit te vestig.
Die groep beskryf hul klank as tydloos – organiese instrumente, intieme sang, diep lae frekwensies en moderne produksie wat saamwerk om warmte, eerlikheid en intimiteit te skep. Die wisselwerking tussen die twee hoofstemme vorm die kern van die projek. “Ons sien die sang nie net as ’n manier om lirieke oor te dra nie, maar as ’n gesprek tussen twee mense.Daardie spanning en harmonie is die hart van Winter Hotel.”
Die visuele identiteit van Winter Hotel speel ’n ewe belangrike rol as die musiek self. Vir die musiekvideo van “Heuning” het die groep doelbewus wegbeweeg van tradisionele Afrikaanse musiekvideo’s om ’n unieke nostalgiese wêreld te skep. Chantelle Schnetler Design het spesiale kostuums vir die projek ontwerp, terwyl teaterregisseur Jannes Erasmus gehelp het om die verhoogproduksie en atmosfeer te ontwikkel.
Cinastage Studios was verantwoordelik vir die videografie, met Silbermann Studios wat die fotografie verskaf het wat die visuele identiteit van Winter Hotel vasvang. Die video bied ook ’n voorsmakie van hoe toekomstige Winter Hotel-vertonings gaan lyk.
“Ons droom is dat mense uiteindelik by ’n teater instap, iets te drink bestel, gaan sit en vir ’n uur lank heeltemal deel word van die wêreld van Winter Hotel. Die musiekvideo is amper soos die voorportaal van daardie hotel.”
Hoewel Bernice West en Droomsindroom reeds gevestigde kunstenaars met lojale aanhangers is, glo hulle dat Winter Hotel ook ’n nuwe gehoor sal bereik – luisteraars wat waarde heg aan emosionele storievertelling en musiek wat lank ná die laaste noot by jou bly. “Winter Hotel is geskep om meer te wees as net agtergrondmusiek. Ons hoop dit word die soort musiek waarmee mense herinneringe bou.”
Met “Heuning” word die deur nou oopgemaak na ’n wêreld waar elke liedjie nog ’n kamer is om te ontdek. En soos die kunstenaars self sê: “Ons grootste droom is dat mense nie net na die musiek luister nie, maar vir 'n rukkie by Winter Hotel sal inboek.”
Heuning - Winter Hotel (Official Music video)
Volg Heuning
Instagram: Kliek Hier
TikTok : Kliek Hier
YouTube: Kliek Hier




Comments