Adam en Eva het ’n appeltjie te skil
- Amanda Bekker

- 6 days ago
- 2 min read
Die heel eerste "power couple" in die geskiedenis kom Potchefstroom toe, en dinge gaan dalk ’n bietjie haaks raak. Eeue nadat hulle uit die paradys ge-fire is, sit Adam en Eva vandag steeds en kopkrap oor die huwelik. As jy al ooit gewonder het hoe die eerste man en vrou dinge soos liefde, kinders en huishou uitgepluis het sonder ’n Google-handboek, is hierdie jou kans om uit te vind.
Die laatlammetjie het uiteindelik die huis verlaat en nou sit die proto-paartjie weer alleen met mekaar opgeskeep. Sien hulle kans vir nog ’n honderd jaar saam, of gaan die ou sondes en daardie berugte vrug hulle inhaal? Hulle het beslis ’n appeltjie met mekaar te skil in hierdie splinternuwe komedie.

Twee reuse op een verhoog
Hierdie produksie bring twee van Suid-Afrika se absoluut beste storievertellers saam op die verhoog. Frank Opperman speel die rol van Adam, ’n man wat glo hy het dit eintlik maar taai gehad omdat die handboek vir menswees eers lank ná sy tyd geskryf is.
Teenoor hom is Margit Meyer-Rödenbeck as Eva, ’n gefrustreerde kunstenaar wat uiteindelik haar kant van die storie vertel. Sy gaan oopkaart speel oor die lief en leed van die wêreld se heel eerste huisvrou en moeder. Dit is ’n klassieke geval van "he said, she said" wat almal in die gehoor sal laat saamlag.
Die teks en regie is behartig deur Wessel Pretorius, met Nell van der Merwe in beheer van die stel, en kostuumontwerp. Wicus Louw sorg vir die beligting, oorspronklike musiek en die verhoogbestuur. Hierdie skreeusnaakse produksie word moontlik gemaak deur Arena Produksiehuis, as ’n ko-produksie van die Suidoosterfees en Vrystaat Kunstefees, met die ondersteuning van Het Jan Marais Nationale Fonds.
Alles wat jy moet weet
"Eerste vir alles" is ’n romantiese komedie oor hoe dit is om saam ou bene te maak, veral as die een die ander nog ’n ribbebeen skuld. Die vertoning is propvol humor, herkenbare huweliksgevegte en lekker loslit Afrikaans.
Plek: Potchefstroom Gimnasium (Gimmies), geleë te Molenstraat 20, Bult, Potchefstroom.
Tydsduur: 75 minute.
Ouderdomsbeperking: Geen onder 13 (Taal).
Die vertonings vind op die volgende dae en tye plaas:
29 September om 19:00
30 September om 13:00
1 Oktober om 16:30
3 Oktober om 16:00
Kaartjies
Kaartjies is beskikbaar in verskillende prysklasse, so dit betaal definitief om vroegtydig aanlyn te reël.
Pryse: R200.00 vir Hartsvriende, R220.00 as jy aanlyn koop, en R240.00 by die deur.
Aanlyn verkope: Kaartjies kan direk gekoop word by Seatme




Comments