Die Kuierkombuis maak oop vir Aardklop - 7 tot 11 Oktober
- Amanda Bekker

- Sep 23, 2025
- 1 min read
’n Fees vir die maag en die siel
Van 7 tot 11 Oktober word die Gereformeerde Kerk Potchefstroom–Die Bult se kombuis amptelik die Kuierkombuis tydens Aardklop. Dis die plek waar almal wat moeg raak van rondloop, feesvier of net lus is vir iets warm om te eet, kan kom sit en kuier. Die kerk is op die hoek van Molen- en Borcherdstraat, maklik bereikbaar en met parkeerplek beskikbaar.
Wat wag binne
Die deure is daagliks oop van 10:00 tot 19:00 en daar’s iets vir elke honger maag:
Barista-koffiekroeg vir daai broodnodige caffeine fix
Koek wat lyk en proe soos iets wat jou tannie op ’n Sondag sou bak
Middagetes van 11:30 tot 14:00, vir almal wat nie lus is vir feeskos op ’n stokkie nie
Aandetes van 17:00 tot 19:00, ideaal voor die musiek of drama begin
Wie baat daarby
Die Kuierkombuis is nie net vir die lekkerte nie. Die opbrengs gaan aan die Potchefstroom Dienssentrum vir Bejaardes, die Amelia Nasorgsentrum en die Simon Coetzee Versorgingstrust. Met ander woorde, elke koek of bord kos wat jy koop, help om die pot aan die kook te hou vir mense wat dit regtig nodig het.
By Aardklop is daar baie lawaai, musiek en geesdrif, maar die Kuierkombuis bring daai bietjie huislike gevoel terug. Dis ’n plek waar mense saam eet, saam lag en saam onthou dat Potch altyd weet hoe om ’n bord kos ordentlik voor te sit.





Comments