Die Vyftigers kom Potch toe – En hulle bring hul kitare saam - 27 September
- Amanda Bekker

- Jul 10, 2025
- 2 min read
Afrikaanse musiekliefhebbers, skryf dié datum in vet rooi op die yskas: 27 September 2025. Want dan gaan Potchefstroom behoorlik bewe met die klanke van Die Vyftigers, ’n eenmalige Afrikaanse musiekviering wat jy nie wil mis nie.
Wie is "Die Vyftigers"?
Dis nie net ’n groep ou toppies met kitare nie. Dis vier van Afrikaans se hardebaarde, Neil Sandilands, Schalk Joubert, Gian Groen en Abel Kraamsaal, wat elkeen hul 50ste verjaardag én Afrikaans se 100ste amptelike bestaansjaar vier. En hulle doen dit op die beste moontlike manier: op ’n verhoog, saam, met lirieke, stories, musiek en ’n goeie skoot humor.
Hoe het dit begin?
Die storie begin, soos meeste goeie stories, by ’n partytjie. Gian Groen se 50ste, in Grabouw se appelboorde. Daar tussen die bome en die kitare sê Neil iets soos: “Hoor hier, almal van ons word 50, en Afrikaans is 100, dis ’n show!” ’n WhatsApp of twee later en die deal was gesluit. So is Die Vyftigers gebore, nie as ’n band nie, maar as ’n idee wat klink soos whiskey op ys en stories voor die kaggel.
Wat kan jy verwag?
Hier's nie plek vir bling en backup dancers nie. Dis net die manne, hul instrumente en honderde jare se stories. Oor liefde, lewe, taal, tyd en teerpad. Dis rou, eerlik, en so bietjie snaaks, die soort musiek wat nie net speel nie, maar met jou gesels.
Hulle gaan ou gunstelinge speel, nuwe liedjies bring wat vir hierdie show geskryf is, en jou laat wens jy’t vroeër kaartjies gekoop.
Wanneer en waar?
Datum: Saterdag, 27 September 2025
Plek: 37 Loopstraat, Potchefstroom
Tyd: Kry daai braaipak vroeg reg, jy gaan nie betyds daar wil aankom nie, jy wil vroeg wees
Prys: R280 per persoon
Kaartjies: WhatsApp vir Riaan by 082-571-8557
’n Viering van Afrikaans – sonder die velskoene en vuvuzelas
Hier’s nie ’n kulturele preek of skoolkonsert nie. Dis net vier vriende wat die taal waarin hulle droom en vloek, vier. En hulle nooi jou saam. As jy ooit gewonder het wat gebeur as talent, ouderdom en taal op ’n verhoog clash, hier’s jou kans.
Dis een show, een stad, vier verjaarsdae, en ’n taal wat hou soos Bostik.
Maak reg vir stories, snaarwerk, en daai tipe lag wat jou in jou ribbes slaan. Potchefstroom, die Vyftigers is oppad.










Comments