Kuns chaos - Die NWU Galery hou kinders besig by Aardklop
- Amanda Bekker

- 9 hours ago
- 2 min read
NWU se gewilde Kinderkunsprogram is terug vir Momentum Aardklop 2026. As daar kinders in die huis is tussen 6 en 15 jaar oud wat daarvan hou om dinge in te kleur, of dalk die mure te skilder, is hierdie die ideale plek om hulle besig te hou.
Hier gaan dit nie oor vervelige lesings nie, maar oor hande vuil maak met verf en allerhande mixed media. Of die kind nou die nuwe Pierneef is en of hulle net daarvan hou om dinge te plak en te knip, almal is welkom. Die NWU Galery se eie personeel en fasiliteerders hou 'n oog oor dinge sodat dinge veilig en kreatief bly.

Wat kry die kleinspan vir hul kaartjie?
Die werksessies duur altesaam 120 minute. Vir die prys van die kaartjie word al die materiaal self voorsien, so ouers hoef nie vooraf rond te hardloop vir spesiale kwaste of gom nie. Die kinders kry 'n begeleide toer van vyf baie inspirerende tentoonstellings om die idees te laat vloei, praktiese kunsaktiwiteite om hul innerlike kunstenaar te wys, en 'n aktiwiteit-en-lekkernye-sak vol allerhande verrassings.
Om seker te maak almal voel tuis en verstaan presies wat om te doen, word die program in Afrikaans, Engels en Setswana aangebied. Dit is 'n oop, verwelkomende space waar die jonges sommer maklik nuwe vriende kan maak terwyl hulle skep.
Tye, ouderdomme en daardie belangrike besonderhede
Daar is die twee verskillende ouderdomsgroepe sodat die aktiwiteite presies pas by wat die kinders kan doen. Die kleinspan tussen 6 en 10 jaar ontmoet van 09:30 tot 11:30 vir hul sessie. Die ouer groep tussen 11 en 15 jaar kry húl beurt van 12:00 tot 14:00. Hierdie sessies gebeur op 30 September en 1 Oktober.
Die venue is die NWU Galery in Hoffmanstraat, Potchefstroom. Kaartjies kos R50.00 per persoon. Elke sessie het 'n maksimum van net 15 deelnemers om dinge lekker rustig en gefokus te hou, so dit help nie om te lank te wag nie.
Kaartjies: Koop dit aanlyn by Seatme


Comments