Vlindervry - Chaos hartstog en hope lag by Aardklop
- Amanda Bekker

- Jul 1
- 2 min read
Updated: 1 day ago
As iemand al ooit gewonder het hoe dit voel om gelyktydig van jou ma te probeer wegloop en hals oor kop verlief te raak, is daar goeie nuus. Die bekende treffer-komedie Butterflies Are Free het ’n vars Afrikaanse baadjie gekry, en dit beloof om gehore behoorlik te laat giggel.
Waaroor gaan die storie?
Die produksie vertel die storie van Daan Bekker, ’n 19-jarige blinde ou wat besluit het Kaapstad toe is die ideale plek om sy eie voete te vind. Hy wil eintlik ’n sangloopbaan naestreef, maar die eintlike rede vir die trek is sy ma. Mevrou Bekker is die definisie van ’n "helicopter parent" en ’n absolute beheervraat. Daan wil net onder haar vlerk uit.
Dinge raak baie vinnig baie interessant as sy nuwe buurvrou, Griet, in die prentjie verskyn. Griet is ’n vrye gees en voor die eerste koffie koud is, is die twee smoorverlief. Maar net toe Daan dink hy wen die lottery van die lewe, daag sy ma op. Sy het ’n belofte verbreek omdat sy te bekommerd was, en sy is glad nie impressed met Daan se nuwe leefstyl of sy nuwe meisie nie. Daan moet skielik veg vir sy onafhanklikheid en sy love life.
Die mense agter die skerms
Hierdie skreeusnaakse produksie spog met top-talent. Die bekende Cindy Swanepoel, Heinrich Wentzel, Jeanne-Marié Koekemoer en Geon Nel is op die verhoog te sien. Die teks is oorspronklik deur Leonard Gershe geskryf, maar Wessel Pretorius het die verwerking en regie behartig. Marie Vogts hou alles in plek as produksiebestuurder. Die stuk is moontlik gemaak deur Momentum Aardklop en die Toyota Stellenbosch Woordfees.
Gimmies, reëls en die fynskrif
Die vertoning is ’n lekker ligte komedie van 90 minute lank. Hou net in gedagte dat daar ’n ouderdomsbeperking van "Geen o. 14 (T/V)" is, so los die jonger kinders maar eerder by die huis. Die venue is die Gimmies-saal, geleë te Molenstraat 20, op die Bult in Potchefstroom.
Belangrike Inligting & Kaartjies
Wanneer: 29 September om 09:30, 30 September om 19:30, 1 Oktober om 09:30, 2 Oktober om 13:00, en 3 Oktober om 09:30.
Kaartjiepryse: R230.00 vir Hartsvriende, R250.00 as jy aanlyn koop, en R270.00 as jy eers by die deur besluit om te gaan.
Bespreek aanlyn by Seatme:





Comments